Ou Testament

Nuwe Testament

Nehemia 3:7-18 Die Boodskap (DB)

7. Die volgende gedeelte is deur Melatja van Gibeon en Jadon van Meronot, en deur die mans van Gibeon en Mispa herstel tot by die hoofkwartier van die goewerneur van die Wes-Eufraatprovinsie.

8. Ussiël seun van Garhaja, wat ’n goudsmid is, het die volgende gedeelte herstel, en Gananja, ’n salfmenger, die volgende deel. Hulle het die gedeelte tot by die Breë Muur herbou.

9. Refaja seun van Gur en raadslid oor ’n groot gebied van Jerusalem het die gedeelte langs hulle herstel.

10. Jedaja seun van Garumaf het die volgende gedeelte langs sy eie huis herstel. En Gattus seun van Gasabneja die volgende gedeelte.

11. Malkija seun van Garim en Gassub die seun van Pagat-Moab het saam die deel tot by die Bakoondtoring herbou.

12. ’n Ander raadslid oor ’n groot gedeelte van Jerusalem, Sallum die seun van Loges, en sy dogters het die volgende gedeelte herstel.

13. Die Valleihek is deur Ganun en die mense van Sanoag herstel. Hulle het die balke, deure, skarniere en sluitbalke ingesit en die gedeelte van 450 meter tot by die Vullishek gebou.

14. Malkija seun van Rekab en hoof oor die gebied Bet-Kerem het die Vullishek reggemaak. Hy het die hek herbou en die deure, skarniere en sluitbalke ingesit.

15. Sallun die seun van Kol-Gose en hoof oor die gebied Mispa het die Fonteinhek reggemaak. Hy het die hek herbou, die dak opgesit en ook al die deure, skarniere en sluitbalke ingesit. Hy het ook die muur langs die Siloamdam herbou wat strek van die Koningstuin af tot by die trappe wat uit die Dawidstad afkom.

16. Nehemia seun van Asbuk en hoof oor die gebied Bet-Sur, het van daar af die muur tot regoor die Dawidsgrafte herstel, tot so ver as die stad se wateropgaardam en die soldate se woonkwartiere.

17. Die volgende deel van die stadsmuur is deur die Leviete opgebou. Regum die seun van Bani het ’n gedeelte reggemaak, en Gasabja, hoof oor ’n gedeelte van Keïla, ’n ander gedeelte namens al sy mense.

18. Die volgende gedeelte is deur Binnuï seun van Genadad en hoof oor die res van Keïla, herstel.

Lees volledige hoofstuk Nehemia 3