hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13

Ou Testament

Nuwe Testament

Nehemia 3 Die Boodskap (DB)

Jerusalem se muur word herbou

1. Die hoëpriester Eljasib en die ander priesters het die bouwerk begin. Hulle het by die Skaaphek begin. Toe hulle die deure klaar gehang het, het hulle dit aan die Here opgedra. Daarna het hulle die gedeeltes tot by die Toring van die Honderd en die Gananeltoring voltooi en dit ook aan die Here opgedra.

2. Die mense van Jerigo het die volgende gedeelte gebou en Imri se seun Sakkur die volgende.

3. Die Senaäfamilie het die Vispoort herbou. Hulle het ook al die balke, deure, skarniere en sluitbalke van die muur ingesit.

4. Meremot die seun van Urija en kleinseun van Kos het die volgende gedeelte herstel. Mesullam die seun van Berekja en die kleinseun van Mesesabel, die volgende, en Sadok Baäna se seun, die volgende.

5. Die mense van Tekoa het die volgende gedeelte opgebou, maar die vooraanstaande mense onder hulle was nie bereid om sulke handewerk vir die Here te doen nie.

6. Jojada seun van Paseag en Mesullam seun van Besodja het die Jesjanahek herstel. Hulle het ook die balke, deure, skarniere en sluitbalke ingesit.

7. Die volgende gedeelte is deur Melatja van Gibeon en Jadon van Meronot, en deur die mans van Gibeon en Mispa herstel tot by die hoofkwartier van die goewerneur van die Wes-Eufraatprovinsie.

8. Ussiël seun van Garhaja, wat ’n goudsmid is, het die volgende gedeelte herstel, en Gananja, ’n salfmenger, die volgende deel. Hulle het die gedeelte tot by die Breë Muur herbou.

9. Refaja seun van Gur en raadslid oor ’n groot gebied van Jerusalem het die gedeelte langs hulle herstel.

10. Jedaja seun van Garumaf het die volgende gedeelte langs sy eie huis herstel. En Gattus seun van Gasabneja die volgende gedeelte.

11. Malkija seun van Garim en Gassub die seun van Pagat-Moab het saam die deel tot by die Bakoondtoring herbou.

12. ’n Ander raadslid oor ’n groot gedeelte van Jerusalem, Sallum die seun van Loges, en sy dogters het die volgende gedeelte herstel.

13. Die Valleihek is deur Ganun en die mense van Sanoag herstel. Hulle het die balke, deure, skarniere en sluitbalke ingesit en die gedeelte van 450 meter tot by die Vullishek gebou.

14. Malkija seun van Rekab en hoof oor die gebied Bet-Kerem het die Vullishek reggemaak. Hy het die hek herbou en die deure, skarniere en sluitbalke ingesit.

15. Sallun die seun van Kol-Gose en hoof oor die gebied Mispa het die Fonteinhek reggemaak. Hy het die hek herbou, die dak opgesit en ook al die deure, skarniere en sluitbalke ingesit. Hy het ook die muur langs die Siloamdam herbou wat strek van die Koningstuin af tot by die trappe wat uit die Dawidstad afkom.

16. Nehemia seun van Asbuk en hoof oor die gebied Bet-Sur, het van daar af die muur tot regoor die Dawidsgrafte herstel, tot so ver as die stad se wateropgaardam en die soldate se woonkwartiere.

Die Leviete wat aan die muur gewerk het

17. Die volgende deel van die stadsmuur is deur die Leviete opgebou. Regum die seun van Bani het ’n gedeelte reggemaak, en Gasabja, hoof oor ’n gedeelte van Keïla, ’n ander gedeelte namens al sy mense.

18. Die volgende gedeelte is deur Binnuï seun van Genadad en hoof oor die res van Keïla, herstel.

19. Langs hom het Eser die seun van Jesua en die hoof oor die gebied Mispa gewerk. Dit was die deel wat regoor die ingang van die wapenkamer begin het en gestrek het tot by die draai in die muur.

20. Baruk die seun van Sabbai het die gedeelte van die draai af tot by die ingang na die hoëpriester Eljasib se huis herstel.

21. Meremot die seun van Urija en kleinseun van Kos het die gedeelte vanaf die ingang na Eljasib se huis tot aan die ander kant van die huis opgebou.

Die priesters wat aan die muur gewerk het

22. Die priesters van die omliggende gebiede het ook gedeeltes van die muur herstel.

23. Benjamin en Gassub het die deel regoor hulle huise reggemaak, en Asarja die seun van Maäseja en kleinseun van Ananeja, die deel reg voor sy huis.

24. Die volgende gedeelte, van Asarja se huis af tot by die draai in die muur en verder tot in die hoek, is deur Binnuï seun van Genadad opgebou.

25. Palal die seun van Usai het die deel van regoor die draai af herstel tot by die toring van die boonste paleis by die Wagplein. Die volgende gedeelte is deur Pedaja seun van Paros

26. en die tempelslawe wat op die Ofel gewoon het, herbou. Hulle het aan die deel van die muur gewerk tot regoor die Waterhek en die aangeboude toring aan die oostekant.

Almal help bou

27. Die mense van Tekoa het die muur van die groot aangeboude toring af tot by die Ofelmuur herbou; dit was al die tweede gedeelte waarmee hulle besig was.

28. Van bokant die Perdehek af het die priesters elkeen die gedeelte regoor sy huis herstel.

29. Sadok seun van Immer het ook die muur regoor sy huis herstel, en Semaja die seun van Sekanja en opsigter van die Ooshek, die volgende gedeelte.

30. Gananja seun van Selemja en Ganun, die sesde seun van Salaf, het hulle deel herstel. Mesullam die seun van Berekja het die deel tot regoor sy blyplek reggemaak.

31. Malkija, ’n goudsmid, het die muur tot by die blyplek van die tempelslawe en die handelaars, regoor die Inspeksiehek en tot by die kamer bo-op die hoek, herbou.

32. Die goudsmede en handelaars het die laaste gedeelte van die muur, tussen die kamer op die hoek en die Skaaphek, herbou.