Ou Testament

Nuwe Testament

Nehemia 3:13-30 Die Boodskap (DB)

13. Die Valleihek is deur Ganun en die mense van Sanoag herstel. Hulle het die balke, deure, skarniere en sluitbalke ingesit en die gedeelte van 450 meter tot by die Vullishek gebou.

14. Malkija seun van Rekab en hoof oor die gebied Bet-Kerem het die Vullishek reggemaak. Hy het die hek herbou en die deure, skarniere en sluitbalke ingesit.

15. Sallun die seun van Kol-Gose en hoof oor die gebied Mispa het die Fonteinhek reggemaak. Hy het die hek herbou, die dak opgesit en ook al die deure, skarniere en sluitbalke ingesit. Hy het ook die muur langs die Siloamdam herbou wat strek van die Koningstuin af tot by die trappe wat uit die Dawidstad afkom.

16. Nehemia seun van Asbuk en hoof oor die gebied Bet-Sur, het van daar af die muur tot regoor die Dawidsgrafte herstel, tot so ver as die stad se wateropgaardam en die soldate se woonkwartiere.

17. Die volgende deel van die stadsmuur is deur die Leviete opgebou. Regum die seun van Bani het ’n gedeelte reggemaak, en Gasabja, hoof oor ’n gedeelte van Keïla, ’n ander gedeelte namens al sy mense.

18. Die volgende gedeelte is deur Binnuï seun van Genadad en hoof oor die res van Keïla, herstel.

19. Langs hom het Eser die seun van Jesua en die hoof oor die gebied Mispa gewerk. Dit was die deel wat regoor die ingang van die wapenkamer begin het en gestrek het tot by die draai in die muur.

20. Baruk die seun van Sabbai het die gedeelte van die draai af tot by die ingang na die hoëpriester Eljasib se huis herstel.

21. Meremot die seun van Urija en kleinseun van Kos het die gedeelte vanaf die ingang na Eljasib se huis tot aan die ander kant van die huis opgebou.

22. Die priesters van die omliggende gebiede het ook gedeeltes van die muur herstel.

23. Benjamin en Gassub het die deel regoor hulle huise reggemaak, en Asarja die seun van Maäseja en kleinseun van Ananeja, die deel reg voor sy huis.

24. Die volgende gedeelte, van Asarja se huis af tot by die draai in die muur en verder tot in die hoek, is deur Binnuï seun van Genadad opgebou.

25. Palal die seun van Usai het die deel van regoor die draai af herstel tot by die toring van die boonste paleis by die Wagplein. Die volgende gedeelte is deur Pedaja seun van Paros

26. en die tempelslawe wat op die Ofel gewoon het, herbou. Hulle het aan die deel van die muur gewerk tot regoor die Waterhek en die aangeboude toring aan die oostekant.

27. Die mense van Tekoa het die muur van die groot aangeboude toring af tot by die Ofelmuur herbou; dit was al die tweede gedeelte waarmee hulle besig was.

28. Van bokant die Perdehek af het die priesters elkeen die gedeelte regoor sy huis herstel.

29. Sadok seun van Immer het ook die muur regoor sy huis herstel, en Semaja die seun van Sekanja en opsigter van die Ooshek, die volgende gedeelte.

30. Gananja seun van Selemja en Ganun, die sesde seun van Salaf, het hulle deel herstel. Mesullam die seun van Berekja het die deel tot regoor sy blyplek reggemaak.

Lees volledige hoofstuk Nehemia 3