Ou Testament

Nuwe Testament

Nehemia 2:1-9 Die Boodskap (DB)

1. Op ’n dag, vier maande later, in die twintigste regeringsjaar van koning Artasasta, was hy besig om te eet en ek het wyn aan hom bedien. Hy het my nog nooit voorheen bedruk gesien nie.

2. Daarom het hy vir my gevra: “Wat is fout? Ek kan sien jy is nie siek nie! Maar dan moet jy baie hartseer wees oor iets, of hoe?” Ek was uit die veld geslaan dat die koning dit raakgesien het

3. en sê toe vir hom: “Lank lewe die koning! Ek kan nie anders as om hartseer te wees nie. Die stad waar my voorouers begrawe is, is een groot puinhoop. Al die mure rondom die stad lê plat en die stad se hekke is verbrand.”

4. “Hoe kan ek jou help?” wou die koning weet. Op daardie oomblik het ek ’n vinnige skietgebed opgestuur na die God van die hemel toe.

5. Toe sê ek vir die koning: “As U Majesteit my toelaat om ’n guns te vra: laat my asseblief dan toe om na die landgebied van Juda terug te gaan sodat ek die stad waarin my voorvaders begrawe is, kan gaan herbou.”

6. Die koningin het langs die koning aan tafel gesit. Hy vra toe vir my: “Hoe lank sal dit jou vat en wanneer sal jy terug wees?”Nadat ek hom geantwoord het, het hy vir my toestemming gegee om te gaan.

7. Ek sê toe vir hom: “Ek sal bly wees as U Majesteit vir my briewe gee om vir die goewerneurs van die provinsies wes van die Eufraatrivier te verduidelik dat ek met u goedkeuring terugkeer. Dan kan ek sonder probleme deur hulle gebied na Juda toe reis.

8. Ek het ook ’n brief nodig aan Asaf, die voorman van die staatsbos. Hy moet my van hout voorsien om balke te maak vir die hekke van die fort wat naby die tempel is en ook vir die muur rondom die stad en vir die huis waarin ek gaan bly.” Die koning het toe al hierdie dinge vir my gedoen omdat God in sy goedheid sy hand oor my gehou het.

9. Die koning het ’n klompie van sy offisiere en ruiters saam met my gestuur om my te beskerm. Toe ek by die provinsies wes van die Eufraatrivier aankom, het ek die koning se briewe vir die goewerneurs gegee.

Lees volledige hoofstuk Nehemia 2