Ou Testament

Nuwe Testament

Nehemia 13:4-18 Die Boodskap (DB)

4. Die priester Eljasib, wat die opsigter van die tempelstoorkamers was, en Tobija was lank reeds goeie vriende.

5. Daarom het hy Tobija toegelaat om in ’n ruim kamer in te trek. Hierdie kamer was eintlik bedoel as stoorplek vir die koring, wierook en gereedskap wat hulle in die tempel gebruik het, asook vir die tiendes van die koring, wyn en olyfolie wat vir die Leviete, die tempelmusikante en die tempelwagte bedoel was. Die priesters se deel van die offers is ook daar gebêre.

6. Ek was nie in Jerusalem toe hierdie dinge gebeur het nie, aangesien ek in die 32ste regeringsjaar van Artasasta, die koning van Babel, na die koning toe terug is om aan hom te gaan rapporteer hoe alles afgeloop het. Na ’n ruk het ek sy toestemming gekry om terug te gaan.

7. In Jerusalem aangekom, was ek geskok om uit te vind dat Eljasib vir Tobija toegelaat het om in ’n kamer op die tempelterrein te bly.

8. Ek was so kwaad dat ek al Tobija se goed uit die kamer op straat gegooi het.

9. Daarna het ek opdrag gegee dat die kamer opnuut vir die Here skoongemaak moet word en dat die toerusting wat in die tempel gebruik word, asook die graan wat vir die offers gebring is en die wierook, in die kamer teruggesit moes word.

10. Ek het ook gehoor dat die Leviete nie hulle deel van die offers gekry het nie. Daarom is die meeste van hulle en die tempelmusikante elkeen terug na sy eie plaas toe.

11. Ek het met die leiers geraas omdat hulle toegelaat het dat die tempel verwaarloos word. Daarna het ek die Leviete en die tempelmusikante gaan haal sodat hulle weer hulle werk vir die Here kon doen.

12. Hierna het die mense van Juda weer hulle tiendes van koring, wyn en olyfolie na die tempelstoorkamer toe gebring.

13. Ek het die priester Selemja, die sekretaris Sadok en die Leviet Pedaja in beheer van die stoorkamers geplaas. Ek het ook vir Ganan die seun van Sakkur en kleinseun van Mattanja, aangestel as hulle assistent. Die mense het geweet dat hulle eerlike en opregte mense is. Daarom het hulle hulle vertrou om die voorraad regverdig te verdeel.

14. My God, onthou tog hierdie goeie daad. Moenie al die mooi dinge wat ek so getrou vir u woonplek gedoen het, vir ’n enkele oomblik vergeet nie.

15. In daardie tyd het ek gesien hoe die mense van Juda op ’n sabbat by hulle wynperse werk. Dit was nie al nie; hulle het ook sakke vol koring, wyn, vye en allerhande ander handelsware op hulle donkies gelaai en dit Jerusalem toe gevat om dit daar te gaan verkoop. Ek het hulle gewaarsku om nie sulke goed op ’n sabbat te doen nie.

16. Daar het ook mense van Tirus in Jerusalem gebly en hulle het vis en allerhande ander goed in die stad ingebring en dit op die sabbat aan die mense in Jerusalem verkoop.

17. Ek het ernstig met die leiers van Juda hieroor gepraat: “Besef julle nie dat julle die sabbat verkeerd hou as julle sulke goddelose goed toelaat nie?” het ek gevra.

18. “Was dit nie presies wat julle voorouers gedoen het nie? Dit is oor sulke dinge dat hierdie stad vernietig is. Al wat nou gaan gebeur, is dat God weer verskriklik kwaad gaan word omdat julle toelaat dat die sabbat so verkeerd gehou word.”

Lees volledige hoofstuk Nehemia 13