Ou Testament

Nuwe Testament

Nehemia 10:36-39 Die Boodskap (DB)

36. “Ons sal volgens die voorskrif van die Here se woord ons oudste seuns na die tempel toe vat en hulle daar aan die Here toewy deur die vasgestelde prys aan die tempel oor te betaal. Ons sal dieselfde doen met die eerstelinge van ons vee, ons beeste, sowel as ons kleinvee. Ons sal hulle vir die priesters bring wat in die tempel van ons God diens doen sodat hulle daarvan kan leef.

37. “Ons sal die eerste deeg wat na die koringoes gemaak word vir die priesters by die tempel vat. Ook die beste van ons ander graanprodukte, ons vrugte, ons wyn en ons olyfolie. Hier kan dit in die voorraadkamers van die tempel gebêre word. Ons sal ’n tiende van ons gesaaides vir die Leviete gee. Hulle sal dit in al die gebiede waar daar gesaai word, kom insamel.

38. “’n Priester uit die geslag van Aäron moet saam met die Leviete kom wanneer hulle die tiendes kom haal. Hiervan moet die Leviete dan een tiende in die voorraadkamer van die tempel gaan bêre.

39. “Die Israeliete en die Leviete moet die offers van graan, wyn en olie na die tempel se voorraadkamers toe bring. Dit is daar waar die gereedskap gebêre word wat in die tempel gebruik word, en waar die priesters bly wat diens doen, asook die tempelwagte en die lede van die tempelkoor.“Ons belowe om nie God se woonplek in Jerusalem af te skeep nie.”

Lees volledige hoofstuk Nehemia 10