Ou Testament

Nuwe Testament

Miga 7:7-16 Die Boodskap (DB)

7. “Ek het besluit ek sal my hulp by die Here soek. Ek sal geduldig wag tot Hy besluit dis nou die tyd om my te red. Verder weet ek die Here sal my gebed beantwoord.”

8. Miga het namens Israel gepraat en gesê: “Ons vyande kry verniet so lekker omdat ons swaarkry. Dit is so dat ons geval het, maar ons sal weer opstaan. Dit voel vir ons of ons in die donkerte sit, maar ons weet die Here sal vir ons soos ’n lig wees.

9. Ons het verkeerde dinge gedoen en die Here het nie daarvan gehou nie. Ons moet daarom doodgewoon ons straf vat. Maar as dit eers verby is, sal die Here sorg dat dinge weer vir ons reg loop. Dit sal vir ons voel of Hy ons uit die donkerte bring na die lig toe. Ons sal weet dit is die Here wat ons laat wen teen ons vyande.

10. Ons vyande het gespot en gesê: ‘Waar is die Here julle God heen, is Hy weg?’ As ons vyande sien hoe die Here ons laat wen, sal hulle baie skaam kry oor hulle astrante houding. Ons sal lekker kry as hulle verneder word. Hulle sal soos modder wees wat in die strate lê en waarop mense trap.

11. “Daar gaan ’n tyd vir Israel kom om hulle stede weer reg te maak nadat die vyande dit verniel het. Hulle gaan dan ook hulle grense uitskuif en so meer grond kry.

12. Wanneer hierdie tyd aanbreek wat Israel verwag, sal mense van oral na hulle toe kom. Hulle sal van Assirië, Egipte en die gebied by die Eufraat af kom. Verder sal hulle ook van die verste see en die verste berge af kom.

13. Die lande van die vyande sal wild en leeg word. Mense sal nie daar wil bly nie. Hoekom gebeur dit? Omdat die mense wat daar bly, slegte dinge gedoen het.”

14. “Israel vra die Here om hulle te versorg en te beskerm soos ’n herder met sy skape maak. Hulle bly nou baie eenkant en alleen soos mense in ’n bos. Rondom hulle is die grond baie vrugbaar. Hulle wens dat die Here hulle sal toelaat om weer hierdie grond te gebruik waar alles so goed groei en groen is. Jare terug het hulle dit gedoen.

15. Hulle vra dat die Here hulle weer op sulke wonderlike maniere sal help soos Hy in Egipte vir hulle gedoen het. Toe het Hy gesorg dat hulle nie langer slawe sou wees nie.

16. Die volke van die wêreld sal stom van verbasing wees oor wat die Here vir sy mense doen. Hulle sal skaam wees omdat hulle eie krag skielik na niks lyk nie as hulle kyk na wat die Here doen. Hulle sal hulle monde en ore toedruk van skok.

Lees volledige hoofstuk Miga 7