Ou Testament

Nuwe Testament

Miga 5:6-14 Die Boodskap (DB)

6. “Nee,” antwoord Miga toe, “die waarheid is net mooi andersom. Die mense van Israel wat die straf van die Here oorleef het, sal vir ander nasies baie beteken. Hulle sal soos dou of reën wees wat die Here verniet gee. Hulle is van die Here afhanklik om te lewe.”

7. “Die mense van Israel wat oorgebly het, sal onder die nasies wees soos ’n leeu onder wilde diere is. Mense sal vir hulle bang wees omdat hulle sterk is. Hulle sal soos ’n leeu wees onder ’n trop skape wat hulle verjaag en verskeur. Niemand sal kom om hulle te help nie.

8. Die mense van Israel sal hulle vyande onverwags aanval en oorwin. Niks sal van hulle oorbly nie,” het die opponente gesê.

9. En Miga antwoord toe: “Die Here sê: ‘Wanneer die tyd kom waarvan Ek praat, sal die volgende gebeur: Ek sal julle wapens en militêre mag heeltemal vernietig.

10. Daar sal ook niks van al julle stede oorbly nie, selfs nie dié met die groot hekke en sterk mure om nie.

11. Ek sal ook ontslae raak van al julle toorkunsies en van julle waarsêers.

12. Verder sal Ek ook al julle afgodsbeelde en die klippilare vernietig wat julle opgesit het om eer aan die gode te bring. Julle sal nooit weer neerbuig voor die goed wat julle met julle hande gemaak het nie.

13. Ek sal die houtpale uitruk wat julle geplant het om die godin van vrugbaarheid te vereer. Ek sal ook julle stede verwoes waar julle hierdie gode aanbid het.

14. Omdat Ek baie kwaad is, sal Ek wraak neem op al die nasies wat aan My ongehoorsaam is.’”

Lees volledige hoofstuk Miga 5