Ou Testament

Nuwe Testament

Miga 4:4-14 Die Boodskap (DB)

4. Daar sal vrede onder die mense wees. Hulle sal hulle eie grond hê vir hulle vrugtebome en hulle sal rustig in die koelte van die bome kan sit sonder dat hulle bang is. Hierdie woorde kan julle maar glo, want dit kom van die Here af. Daar is niemand wat met Hom vergelyk kan word nie.”

5. Die opponente het geantwoord: “Hierdie nasies moet lewe soos hulle gode van hulle verwag. Ons sal aan die Here, wat ons God is, gehoorsaam wees.”

6. Miga antwoord hulle toe: “Die Here sê: ‘Wanneer hierdie tyd kom wat Ek gesê het, sal Ek die mense wat seergekry het toe Ek my volk gestraf het, bymekaarmaak. Ek sal hulle in die ander lande gaan haal waar Ek hulle as vreemdelinge laat swaarkry het.

7. Hierdie mense wat die swaar straf oorleef het, sal Ek weer ’n trotse nasie maak. Ek sal tot in die verre toekoms hulle Koning in Jerusalem wees.’”

8. “Jerusalem is ’n sterk en veilige stad. Dit is op ’n hoogte gebou sodat die mense van Juda daar veilig kan wees. Jerusalem sal weer soos vroeër die hoofstad wees van waar die koning sal regeer.

9. Hoekom skreeu die mense van Jerusalem dan so benoud? Dit is tog onnodig, want die koning regeer mos nog in die stad. Hulle gekreun en gekla is ook onnodig, hulle planmakers is mos nie dood nie!” antwoord die opponente toe.

10. “Nee,” sê Miga toe, “die mense van Jerusalem behoort benoud te wees. Hulle kan maar gerus skreeu, want moeilike tye lê vir hulle voor. Jerusalem is nie so veilig as wat hulle dink nie. Dit is beter om uit die stad uit te vlug na die oop ruimtes om die stad of selfs om na Babel toe te gaan. Dit is nou wel die hoofstad van die vyand, maar die Here sal hulle daar kom verlos uit die mag van hulle vyande.”

11. Die opponente het gesê: “Dit is nou wel so dat van die nasies hulle kragte saamspan teen Juda en sê: ‘Ons sal met ons eie oë sien hoe hierdie stad ondergaan. En ons sal bly wees!’

12. Maar hulle verstaan nie hoe die Here dink of wat sy planne is nie. Hy is van plan om vir hulle die lewe baie moeilik te maak en hulle swaar te straf.

13. Die mense van Juda glo dat die Here hulle baie sterk sal maak om teen die nasies te kan veg en hulle te vernietig. Dan sal hulle die kosbare besittings van die vyand vat en dit na Jerusalem bring as die Here se buit. Hy is mos die Koning van die hele wêreld.”

14. Maar Miga het vir die mense van Jerusalem gesê dat hulle moet regmaak vir ’n baie moeilike tyd wat voorlê. Dit sal moeilik gaan, want die stad is deur die vyand omsingel. Die vyand sal die koning van Israel verneder deur te wys dat hy nie meer in beheer van sy mense is nie.

Lees volledige hoofstuk Miga 4