Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 27:27-34 Die Boodskap (DB)

27. As dit die eerste kleintjie is van ’n dier wat nie op die altaar geslag mag word nie, kan die persoon dit afkoop vir een vyfde meer as die afkoopwaarde. As hy dit nie wil afkoop nie, moet die dienaar by die Here se tent dit teen sy vasgestelde afkoopwaarde verkoop.”

28. “Enigiets wat iemand heeltemal aan die Here afgestaan het en wat nie langer deur ’n mens gebruik mag word nie, of dit nou ’n mens of ’n dier of ’n lap erfgrond is, kan nooit weer afgekoop of verkoop word nie. Dit behoort net aan die Here en aan Hom alleen.

29. Geen mens wat as ’n offer aan die Here beloof is, kan weer teruggekoop word nie. Daardie persoon moet doodgemaak word.

30. “Een tiende van alles wat die land oplewer, van al die graan en van al die vrugte, behoort uitsluitlik aan die Here en aan Hom alleen.

31. As iemand van die tiende wat hy moet afstaan, iets wil terugkoop, moet hy ’n vyfde by die waarde daarvan byvoeg.

32. ’n Tiende van julle beeste en julle kleinvee behoort buitendien aan die Here. Om te bepaal watter aan die Here afgestaan moet word, moet julle so maak: laat die diere by jou verbykom en soos hulle verbykom, moet elke tiende een uitgekeer word en aan die Here afgestaan word.

33. Daar moet nie onderskeid gemaak word tussen goeie en slegte diere wanneer hulle uitgekeer word nie. ’n Dier kan ook nie sommer vir ’n swakker een omgeruil word nie. As iemand tog sal waag om dit te doen, moet hy die dier wat hy eerste uitgekeer het, sowel as die dier waarmee hy dit wou ruil, aan die Here afstaan.”

34. Dit is dan al die voorskrifte wat die Here op Sinai deur Moses aan sy volk gegee het.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 27