Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 26:7-22 Die Boodskap (DB)

7. Trouens, julle sal julle vyande agtervolg en hulle met julle wapens afmaai.

8. Net vyf van julle sal nodig wees om 100 van hulle te agtervolg. Honderd sal 10 000 vyande agternasit en hulle van die gras af maak.

9. Ek sal goed wees vir julle. Ek sal maak dat julle baie mense word. So sal Ek my ooreenkoms met julle nakom.

10. Julle sal nog van die vorige jaar se graan eet wanneer dit weggegooi sal word om plek te maak vir die graan van die nuwe oes.

11. Ek sal onder julle woon. Ek sal julle nie minag nie.

12. Ek sal saam met julle bly. Ek sal julle God wees en julle sal my volk wees.

13. Ek is die Here, julle God wat julle uit Egipte laat wegtrek het sodat julle nie langer hulle slawe hoef te wees nie. Ek het die juk wat julle nek afgedruk het, stukkend gebreek sodat julle weer regop kan loop.”

14. “Aan die ander kant kan dit gebeur dat julle julle nie aan My steur nie en nie hierdie dinge doen wat Ek julle beveel het nie.

15. Julle kan my verbintenis met julle in die wiele ry omdat julle my reëls oortree. Julle kan soveel aanstoot neem aan my voorskrifte dat julle weier om my bevele uit te voer.

16. As julle dit doen, sal Ek die volgende dinge met julle laat gebeur: Ek sal verwarring onder julle saai. Ek sal tering en koors tussen julle laat kom wat julle blind sal laat word en sal laat wegkwyn. Julle sal verniet saai, want julle vyand sal dit opeet.

17. Ek sal my rug vir julle draai en julle vyand sal julle verpletter. Die mense wat julle haat, sal julle so sleg behandel dat julle sal begin vlug sonder dat daar eens iemand is wat julle jaag.

18. “As julle na hierdie dinge gebeur het, nog nie bereid is om julle aan My te steur nie, sal Ek julle nog sewe keer erger straf vir julle oortredings.

19. Omdat julle te veel van julleself dink, sal Ek julle siek maak. Ek sal die lug maak soos ’n ysterkoepel waaruit geen reën kan val nie. Die aardkors sal so ondeurdringbaar wees soos ’n bronsplaat.

20. Julle sal verniet julle vernuf inspan, want julle sal nie uit die grond enige oes kan haal nie. Geen boom van die aarde sal vrugte oplewer nie.

21. “As julle dan met My wil rusie maak en julle steeds onwillig bly om julle aan My te steur, sal Ek in lyn met julle oortreding nog sewe ander rampe oor julle loslaat.

22. Ek sal roofdiere tussen julle los laat rondloop. Hulle sal julle kinders vang en julle veetroppe uitroei. Julle getalle sal so erg daal dat daar niemand meer op die paaie sal wees nie.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 26