Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 26:15-27 Die Boodskap (DB)

15. Julle kan my verbintenis met julle in die wiele ry omdat julle my reëls oortree. Julle kan soveel aanstoot neem aan my voorskrifte dat julle weier om my bevele uit te voer.

16. As julle dit doen, sal Ek die volgende dinge met julle laat gebeur: Ek sal verwarring onder julle saai. Ek sal tering en koors tussen julle laat kom wat julle blind sal laat word en sal laat wegkwyn. Julle sal verniet saai, want julle vyand sal dit opeet.

17. Ek sal my rug vir julle draai en julle vyand sal julle verpletter. Die mense wat julle haat, sal julle so sleg behandel dat julle sal begin vlug sonder dat daar eens iemand is wat julle jaag.

18. “As julle na hierdie dinge gebeur het, nog nie bereid is om julle aan My te steur nie, sal Ek julle nog sewe keer erger straf vir julle oortredings.

19. Omdat julle te veel van julleself dink, sal Ek julle siek maak. Ek sal die lug maak soos ’n ysterkoepel waaruit geen reën kan val nie. Die aardkors sal so ondeurdringbaar wees soos ’n bronsplaat.

20. Julle sal verniet julle vernuf inspan, want julle sal nie uit die grond enige oes kan haal nie. Geen boom van die aarde sal vrugte oplewer nie.

21. “As julle dan met My wil rusie maak en julle steeds onwillig bly om julle aan My te steur, sal Ek in lyn met julle oortreding nog sewe ander rampe oor julle loslaat.

22. Ek sal roofdiere tussen julle los laat rondloop. Hulle sal julle kinders vang en julle veetroppe uitroei. Julle getalle sal so erg daal dat daar niemand meer op die paaie sal wees nie.

23. “As julle na al hierdie dinge steeds aanhou om My teen te staan en weier om iets van My te leer,

24. sal Ek ook teen julle draai en julle persoonlik nog sewe keer meer straf vir julle oortreding.

25. Ek sal wraak neem omdat julle julle nie aan My verbintenis met julle gesteur het nie. Ek sal oorlog teen julle laat uitbreek. As julle in julle stede gaan probeer wegkruip, sal Ek maak dat daar siekte onder julle uitbreek. Julle sal die knie voor die vyand moet buig.

26. Ek sal julle kos so min laat word dat tien vroue skaars genoeg bymekaar kan kry om in een oond vir julle brood te bak. Hulle sal julle kos so moet rantsoeneer dat julle nie versadig kan kom van wat julle te ete kry nie.

27. “As julle selfs dan nog voortgaan om julle nie aan My te steur nie en julle steeds teen My bly verset,

Lees volledige hoofstuk Levitikus 26