Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 24:3-19 Die Boodskap (DB)

3. “Aäron moet sorg dat daar elke nag ’n lamp is wat in die tent van samekoms brand, in die deel voor die gordyn wat die deel afskort wat vir die Here afgesonder is. Dit moet altyd aan die brand gehou word.

4. Hy moet ook kyk dat die lampies op die goue kandelaar gereeld brand.

5. Hy moet ook twaalf brode bak. Elkeen moet gebak word van drie kilogram fynmeel.

6. Hy moet die brood op die goue tafel voor die Here in twee stapels pak wat elkeen ses brode het.

7. By elke stapel brood moet hy suiwer wierook neersit. Die wierook word vir die Here geoffer in die plek van die brood self.

8. Elke sewende dag moet die dienaars weer nuwe brood daar gaan neersit. Dit moet gereeld gedoen word.

9. Aäron en sy seuns mag dan die ou brood wegvat en gaan eet op ’n plek wat daarvoor eenkant gesit is. Die brood word net vir die Here se werk gebruik en vir niks anders nie. Aäron mag dit vat uit die offers wat vir die Here gebring word. Dit is ’n reël wat vasstaan.”

10. ’n Man wat ’n Israelitiese ma gehad het en ’n Egiptiese pa, het eenmaal in die kamp aan die baklei geraak met ’n Israelitiese man.

11. Sy ma se naam was Selomit. Sy was Dibri se dogter. Hulle was uit die stam van Dan. Haar seun het gevloek en die Here se Naam gebruik asof dit sommer iets alledaags is. Die ander mense het hom toe na Moses gevat.

12. Hulle het hom opgesluit sodat Moses vir die Here kon vra wat hulle met hom moes doen.

13. Die Here het toe vir Moses gesê:

14. “Vat die man wat gevloek het uit die kamp uit. Elkeen wat gehoor het wat hy gesê het, moet hulle hand op sy kop sit om te wys dat hy skuldig is. Daarna moet almal hom met klippe doodgooi.

15. Sê dan vir die Israeliete: Enigiemand wat God se Naam sommerso gebruik sonder eerbied vir die Here, moet daarvoor boet.

16. As ’n Israeliet of iemand van ’n ander plek die Here vloek, sal hy sonder meer doodgemaak word. Die volk moet hom met klippe doodgooi.

17. “As ’n persoon iemand anders doodmaak, moet hy self doodgemaak word.

18. Die persoon wat iemand anders se dier doodmaak, moet daarvoor vergoed en ’n dier wat dieselfde waarde het, in sy plek gee.

19. As iemand ’n medemens aan sy lyf seermaak, moet hy op dieselfde plek seergemaak word en in eie munt terugbetaal word.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 24