Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 23:15-33 Die Boodskap (DB)

15. “Van die dag af nadat julle die eerste gerf graan kom offer het, moet julle ’n volle sewe weke aftel

16. tot op die 50ste dag. Dit is die eerste dag na die sewende sabbat. Op daardie dag moet julle weer ’n offer vir die Here bring uit die graan wat so pas geoes is.

17. Van oral waar julle woon, moet julle brood bring om vir die Here te offer. Dit moet van drie kilogram meel gebak wees. Hierdie keer moet julle dit bak met suurdeeg in. Dit is ’n offer vir die Here van die eerste opbrengs van die oes.

18. Bo en behalwe die brood moet julle ’n offer vir die Here bring van sewe jaaroud lammers sonder foute, ’n jong bul en twee ramme. Saam met die offers uit die graan en die offer van wyn, is dit ’n offer wat vir die Here verbrand word waarvan Hy besonder baie hou.

19. Julle moet ook ’n bokram vir die sonde offer en twee jaaroud lammers om saam met die Here te eet.

20. Die dienaar sal die lammers saam met die brood uit die eerste opbrengs van die oes aan die Here opdra. Dit word aan die Here gewy. Sy dienaars mag ook daarvan eet.

21. Presies op daardie 50ste dag moet julle vir die Here bymekaarkom. Julle moet ophou met al julle werk. Dit is ’n vaste afspraak elke jaar vir julle en julle nageslag, waar julle ook al woon.

22. Wanneer julle julle lande oes, moet julle nie alles tot op die buitenste rand afoes nie. Julle moet ook nie die are wat met die oes bly lê het, agterna gaan optel nie. Los dit vir die arm mense en vir dié wat as vreemdelinge by julle bly. Ek is tog die Here julle God.”

23. Die Here het verder deur Moses

24. vir die Israeliete gesê: “Die eerste dag van die sewende maand is die feesdag van herinnering. Die trompet sal blaas en dan moet julle vir die Here bymekaarkom.

25. Julle mag nie op daardie dag met julle gewone werk aangaan nie. Julle moet vir die Here ’n offer bring wat verbrand kan word.”

26. Die Here het verder ook nog vir Moses gesê:

27. “Die jaarlikse dag waarop daar vrede tussen My en julle kom, is op die tiende dag van dieselfde sewende maand. Julle moet dan weer vir My bymekaarkom. Julle moet op daardie dag niks eet nie en oor julleself nadink. Julle moet ook weer offers vir die Here bring wat op die altaar verbrand word.

28. Op hierdie spesifieke dag moet julle ook julle werk laat staan, want dit is ’n dag van vrede waarop julle sonde vergewe word en julle vrede kry by die Here.

29. Enige persoon wat op hierdie bepaalde dag nie ophou eet en voor God kom buig nie, hoort nie langer by my volk nie.

30. Ek sal enigiemand wat op daardie dag aangaan met sy werk uit my volk verwyder.

31. Dit moet ’n vaste reël vir julle en julle nageslag wees, waar julle ook al bly, dat daar op dié bepaalde dag glad nie gewerk mag word nie.

32. Die dag van vrede moet ’n dag wees waarop julle julleself van alles losmaak en voor God kom neerbuig. Dit moet begin op die aand van die negende dag en aangaan tot die aand van die tiende dag.”

33. Die Here het ook nog verder deur Moses

Lees volledige hoofstuk Levitikus 23