Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 16:29-34 Die Boodskap (DB)

29. “Julle moet elke jaar op die tiende dag van die sewende maand ’n dag hê waarop julle niks eet nie. Julle moet op daardie dag julle gedagtes laat gaan oor al die dinge wat julle verkeerd gedoen het. Niemand van julle, selfs ook mense wat van ander plekke kom en by julle bly, mag op daardie dag werk nie.

30. Op daardie dag word daar vir julle sondes betaal. Julle word vrygemaak van al die skuld van julle sonde en daar kom weer vrede tussen julle en die Here.

31. Dit is ’n dag vir die Here waarop julle alles net so moet laat staan om te vas en julle voor God te verneder. Dit is ’n afspraak tussen julle en die Here wat vir elke jaar vas staan.

32. Die dienaar wat die Here daarvoor aangestel het en sy seuns wat hom later opvolg in die diens van die Here, moet elke jaar al hierdie dinge doen om vrede met die Here te maak. Hy moet vir dié geleentheid sy spesiale klere aantrek

33. en gaan vrede maak in die deel agter die gordyn wat vir die Here afgesonder is. Hy moet gaan vrede maak vir die hele tent waar die Here julle ontmoet en vir die altaar wat voor die tent staan. Hy moet ook vrede maak by die Here vir die mense wat by die tent werk en vir die hele volk.

34. “Dit moet ’n vaste datum op julle kalender wees dat daar een maal elke jaar ’n dag van vergewing van sonde en vrede vir Israel sal wees.”Moses het presies gedoen soos die Here gesê het.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 16