Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 16:1-14 Die Boodskap (DB)

1. Twee van Aäron se seuns is dood omdat hulle nie op die regte manier vir die Here geoffer het nie. Die Here het daarom met Moses gepraat.

2. Hy het vir Moses gesê: “Jy moet jou broer Aäron waarsku om nie sommer enige tyd daar agter die gordyn in te gaan wat voor die ark hang nie. Hy sal doodgaan. Ek is daar in ’n wolk wat bo die deksel hang.

3. As Aäron in daardie deel van my tent wil inkom, moet hy ’n jong bul bring om vir die sonde te offer en ’n ram om op die altaar te verbrand.

4. Hy moet ook eers gaan was en dan sy spesiale klere aantrek wat hy dra as hy by die tent sy werk doen: die linnehemp, die linnebroek, die gordel wat hy aansit en die hoed wat hy op sy kop dra.

5. Hy moet ook by die volk twee bokke kry om vir die sonde te offer en een skaapram om op die altaar te verbrand.

6. Hy moet die bul wat hy vir homself gekry het nader bring na die tent toe om dit te offer. Hy sal daarmee vir sy kinders se sonde betaal en vrede maak tussen die Here en sy eie mense.

7. Daarna moet hy die twee bokke vat wat hy by die volk gekry het en hulle voor die Here by die ingang van die tent laat staan.

8. Hy moet lootjies trek tussen die twee bokke om vas te stel watter bok hy vir die Here moet offer en watter een hy die woestyn in moet wegstuur, vir Asasel, die demoon wat in die woestyn bly.

9. Aäron vat dan die bok wat vir die Here geloot is en slag dit om dit vir die volk se sonde te offer.

10. Die ander bok wat bly leef het en weggestuur moet word, bring hy eers voor die Here om daardeur vrede met God te maak voor hy dit wegstuur na die woestyn toe.

11. “Hy vat dan die bul wat hy self gebring het en offer dit vir sy sonde, en maak vrede tussen die Here en die mense van sy huis.

12. Hy skep met ’n vuurpan kole wat warm gloei van die altaar af daar voor die Here en vat dit saam met twee hande vol fyngemaalde wierook agter die gordyn in die tent in.

13. Wanneer hy daar binne voor die Here die wierook oor die kole strooi, sal daar ’n wolk van die wierook opstyg. Dit sal oor die deksel gaan hang wat op die houer is waarin die getuienis van God se ooreenkoms met sy volk gehou word. Hy sal die deksel glad nie kan sien nie en nie doodgaan nie.

14. Hy vat dan die bloed van die bul wat hy geslag het en sprinkel dit sewe keer met sy vinger teen die voorkant van die versoendeksel en op die grond voor die deksel.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 16