Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 13:5-23 Die Boodskap (DB)

5. Hy moet op die sewende dag weer daarna kyk. As dit vir hom lyk of dit net so gebly het en die uitslag nie verder op die vel versprei het nie, moet hy die man vir nog sewe dae laat eenkant bly.

6. Daarna moet hy hom weer ondersoek. As die uitslag verdwyn het en nie verder op die vel versprei het nie, moet die dienaar vir hom sê dat hy tussen die ander mense kan bly. Dit was ’n tydelike uitslag. Die man moet sy klere gaan was en met sy normale lewe aangaan.

7. As die uitslag egter weer begin versprei nadat die dienaar by die tent van die Here dit bekyk het en hom gesond verklaar het, moet hy teruggaan na die dienaar toe.

8. As die dienaar sien dat dit oor die vel versprei het, moet hy die man uit die gemeenskap laat weggaan. Dit is dan ’n aansteeklike velsiekte.

9. “Wanneer ’n man ’n aansteeklike velsiekte het, moet hy na die tent kom

10. sodat die dienaar daarna kan kyk. As daar ’n witterige uitslag op die vel is, die hare daarop verkleur het en daar ’n oop seer is,

11. is dit ’n chroniese velsiekte. Die dienaar moet hom dan wegstuur uit die gemeenskap uit. Hy hoef nie vir ’n tyd eenkant te bly nie, want dit is duidelik dat hy nie langer tussen ander mense kan bly nie.

12. As die velsiekte versprei het en dit vir die dienaar lyk of dit oor die persoon se hele lyf is, van sy kop tot sy tone,

13. moet hy hom oral ondersoek. As die uitslag kleurloos geword het, moet hy hom na sy mense laat teruggaan. Hy mag tussen ander mense bly.

14. Sodra daar egter ’n rou seer verskyn, kan die persoon nie tussen ander mense bly nie.

15. Die dienaar moet die rou seer ondersoek. ’n Rou seer is gevaarlik en aansteeklik. Dit is ’n chroniese velsiekte.

16. Wanneer die oop seer egter toegroei en wit word, moet die man weer na die Here se tent toe gaan.

17. Wanneer hy ondersoek word en die dienaar sien dat die seer wit geword het, moet hy weer toegelaat word onder die ander mense. Hy word weer in die gemeenskap toegelaat.

18. “As iemand ’n seer op sy lyf gehad het wat weer gesond geword het,

19. en daar kom dan ’n wit roof of rooierige vlek op die plek waar die seer was, moet hy dit vir die dienaar by die tent waar die Here gedien word, gaan wys.

20. As dit vir die dienaar lyk of dit onder die vel ingaan en die hare op daardie plek verkleur het, moet hy die man wegstuur. ’n Kwaadaardige velsiekte het in die seer ontstaan.

21. As hy daarna kyk en hy sien nie hare wat verkleur het of iets wat onder die vel ingaan nie, maar dat die hare ligter geword het, moet hy die man vir sewe dae afsonder.

22. As dit dan sonder twyfel oor die vel versprei het, moet hy die man wegstuur. Dit is ontsteek.

23. As dit egter net so bly en die uitslag sprei nie verder nie, is dit die litteken wat die seer gelaat het. Hy moet die man na sy mense laat teruggaan.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 13