Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 11:23-34 Die Boodskap (DB)

23. Enige ander ding met vlerke wat in swerms voorkom en wat kruip, is egter vir julle verbode.

24. “Die volgende diere sal maak dat Ek julle nie naby my tent van ontmoeting wil hê nie. As julle selfs net aan hulle karkasse raak, wil Ek vir die res van die dag nie met julle te doen hê nie.

25. As iemand aan enigeen van hierdie diere se karkasse moet vat, moet hy sy klere gaan was. Hy mag vir die res van die dag nie naby my tent kom nie.

26. Die diere in hierdie groep is enige dier wat nie duidelik gesplete hoewe het nie en wat nie herkou nie. Julle mag hulle nie eet nie. Niemand wat aan hulle vat, moet naby My kom nie.

27. Julle moet wegbly van alle viervoetige wilde diere wat nie kloue het nie. Enigiemand wat aan een van hulle karkasse raak, moet vir die res van die dag van my tent af wegbly.

28. As iemand aan hulle karkasse moet vat, moet hy sy klere gaan was. Hy moet ook vir die res van die dag wegbly van My af. Hierdie soort diere moet julle heeltemal vermy.

29. “Van die diere wat op die grond rondkruip, is die volgende vir julle verbode: die mol, die muis en die akkedissoorte,

30. die geitjie, sandakkedis, boomakkedis, gewone akkedis en die verkleurmannetjie.

31. Nie een van hulle is reg nie. Iemand wat aan hulle raak as hulle dood is, moet van my tent af wegbly tot die aand toe.

32. Enigiets waarop een van hulle beland wanneer dit doodgaan, kan nie verder gebruik word nie, of dit nou iets is wat van hout gemaak is, van linne, leer of sakmateriaal. As die voorwerp van een van hierdie dinge gemaak is, moet dit met water afgewas word. Dit sal vir die res van die dag onbruikbaar wees, maar op die volgende dag weer reg om te gebruik.

33. As een van hierdie diere in ’n kleipot beland, word alles wat binne-in die pot was, onbruikbaar. Die pot self moet gebreek word,

34. want enige kos waarby water uit daardie pot kom, sal onbruikbaar wees en enige drinkgoed wat in daardie pot beland, sal bederf wees.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 11