Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 6:7-16 Die Boodskap (DB)

7. Vir die volk het hy gesê: “Loop nou om die stad. Laat die soldate saam met die ark van die Here voor loop.”

8-9. En toe, net soos Josua beveel het, het die mense voor die ark begin stap met die sewe priesters wat op die sewe trompette blaas op hulle hakke, gevolg deur die verbondsark van die Here en die agterhoede. Die priesters het die hele tyd op die trompette geblaas.

10. “Moenie skree nie; moenie eens praat nie,” het Josua beveel. “Ek wil nie ’n woord van enigeen van julle hoor totdat ek julle beveel om te skree nie. Dan moet julle skree!”

11. Hulle het op daardie dag die ark van die Here een maal om die stad gedra. Daarna is hulle terug kamp toe vir die nag.

12-13. Josua het die volgende môre vroeg weer dieselfde gedoen. Die priesters het die ark van die Here gedra met die sewe priesters wat op die trompette geblaas het vooraan. Die soldate het weer die voor- en agterhoede beman. Die priesters het die hele tyd op die trompette geblaas.

14. Op hierdie tweede dag het hulle een maal om die stad geloop en daarna teruggekeer kamp toe. Ses dae lank het hulle elke dag presies dieselfde gedoen.

15. Op die sewende dag het hulle met dagbreek opgestaan en soos gewoonlik op dieselfde manier om die stad geloop. Maar op hierdie dag het hulle sewe keer om die stad geloop.

16. Toe hulle die sewende keer om is, het die priesters weer hard op die trompette geblaas. Toe sê Josua vir die volk: “Skree, want die Here gee die stad in julle mag oor!

Lees volledige hoofstuk Josua 6