Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 6:14-25 Die Boodskap (DB)

14. Op hierdie tweede dag het hulle een maal om die stad geloop en daarna teruggekeer kamp toe. Ses dae lank het hulle elke dag presies dieselfde gedoen.

15. Op die sewende dag het hulle met dagbreek opgestaan en soos gewoonlik op dieselfde manier om die stad geloop. Maar op hierdie dag het hulle sewe keer om die stad geloop.

16. Toe hulle die sewende keer om is, het die priesters weer hard op die trompette geblaas. Toe sê Josua vir die volk: “Skree, want die Here gee die stad in julle mag oor!

17. Die stad en alles wat daarin is, moet egter totaal vernietig word as ’n offer aan die Here. Net Ragab die prostituut en haar mense mag bly lewe omdat sy ons spioene weggesteek het.

18. Julle mag niks van dit wat aan die Here behoort en wat vernietig moet word, vir julleself vat nie. As julle dit doen, sal dit groot probleme veroorsaak en dan sal die kamp ook vernietig word.

19. Alle voorwerpe van silwer, goud, brons en yster behoort aan die Here en moet in sy skatkis kom.”

20. Die priesters het op die trompette geblaas. Toe die volk die geluid van die trompette hoor, het hulle hard geskree, waarop die muur van die stad inmekaargeval het. Die manskappe is toe oor die puin wat omgeval het, die stad in. Hulle het die stad oorrompel.

21. Hulle het alles vernietig wat in die stad was. Mans en vroue, jonk en oud, beeste, skape, donkies, alles is voor die voet tot niet gemaak.

22. Toe het Josua vir die twee mans wat die land moes verken, gesê: “Kom julle belofte na. Gaan na die prostituut se huis toe en bring haar en al haar mense uit.”

23. Die mans het toe vir Ragab, haar pa, haar ma, haar broers en susters en al haar ander familielede wat by haar was, uit die stad gelei en hulle na ’n veilige plek naby die Israeliete se kamp toe gebring.

24. Toe het hulle die stad met alles wat daarin was, tot op die grond afgebrand. Net die artikels van goud, silwer, brons en yster is uitgehou vir die skatkis in die Here se huis.

25. Maar Josua het Ragab die prostituut en al haar familie wat by haar was laat leef, omdat sy die spioene wat hy gestuur het om Jerigo te verken weggesteek het. Haar nageslag is nou nog deel van Israel.

Lees volledige hoofstuk Josua 6