Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 6:10-19 Die Boodskap (DB)

10. “Moenie skree nie; moenie eens praat nie,” het Josua beveel. “Ek wil nie ’n woord van enigeen van julle hoor totdat ek julle beveel om te skree nie. Dan moet julle skree!”

11. Hulle het op daardie dag die ark van die Here een maal om die stad gedra. Daarna is hulle terug kamp toe vir die nag.

12-13. Josua het die volgende môre vroeg weer dieselfde gedoen. Die priesters het die ark van die Here gedra met die sewe priesters wat op die trompette geblaas het vooraan. Die soldate het weer die voor- en agterhoede beman. Die priesters het die hele tyd op die trompette geblaas.

14. Op hierdie tweede dag het hulle een maal om die stad geloop en daarna teruggekeer kamp toe. Ses dae lank het hulle elke dag presies dieselfde gedoen.

15. Op die sewende dag het hulle met dagbreek opgestaan en soos gewoonlik op dieselfde manier om die stad geloop. Maar op hierdie dag het hulle sewe keer om die stad geloop.

16. Toe hulle die sewende keer om is, het die priesters weer hard op die trompette geblaas. Toe sê Josua vir die volk: “Skree, want die Here gee die stad in julle mag oor!

17. Die stad en alles wat daarin is, moet egter totaal vernietig word as ’n offer aan die Here. Net Ragab die prostituut en haar mense mag bly lewe omdat sy ons spioene weggesteek het.

18. Julle mag niks van dit wat aan die Here behoort en wat vernietig moet word, vir julleself vat nie. As julle dit doen, sal dit groot probleme veroorsaak en dan sal die kamp ook vernietig word.

19. Alle voorwerpe van silwer, goud, brons en yster behoort aan die Here en moet in sy skatkis kom.”

Lees volledige hoofstuk Josua 6