Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 24:3-14 Die Boodskap (DB)

3. Ek het julle voorvader Abraham uit die gebied anderkant die Eufraat laat wegtrek en hom die hele land Kanaän laat deurtrek. Ek het vir hom ’n groot nageslag gegee. Sy seun was Isak.

4. Isak het twee seuns, Esau en Jakob, gehad. Vir Esau het Ek die bergagtige gebied van Seïr gegee om in te bly, maar vir Jakob en sy kinders het Ek na Egipte toe laat trek.

5. “Later het Ek vir Moses en Aäron na Egipte toe gestuur en die land met ’n klomp plae getref, maar vir julle het Ek as vry mense daar laat wegtrek.

6. Ek het julle voorouers uit Egipte gelei, maar die Egiptenaars het hulle met strydwaens en gewapende perderuiters agtervolg. Toe hulle by die Rietsee aankom,

7. het hulle my hulp gevra om daar deur te trek. Ek het dit toe donker laat word tussen hulle en die Egiptenaars. Julle het met julle eie oë gesien hoe Ek die Egiptenaars in die Rietsee laat verdrink het. Daarna het Ek julle in die woestyn laat intrek, waar julle lank gebly het.

8. “Toe het Ek julle in die Amoriete se land, aan die oostekant van die Jordaan, laat intrek. Hulle wou teen julle oorlog maak, maar Ek het klaar vir julle die oorwinning gegee. Julle kon hulle land vir julle vat.

9. Daarna wou die koning van Moab, Balak die seun van Sippor, teen julle oorlog maak. Hy het toe vir Bileam die seun van Beor gevra om julle te vervloek.

10. Maar Ek het nie na Bileam geluister nie. Trouens, Ek het hom gedwing om julle te seën en so het Ek julle van Balak verlos.

11. “Van daar af het julle deur die Jordaan getrek tot by Jerigo, waar hulle teen julle oorlog gemaak het. Buiten hulle was daar ook die Amoriete, die Feresiete, die Kanaäniete, die Hetiete, die Girgasiete, die Hewiete en die Jebusiete wat teen julle oorlog gemaak het. Maar deur my toedoen het julle hulle almal verslaan.

12. Daarom, toe die twee Amoritiese konings hoor dat julle op pad is, het hulle klaar moed opgegee. Dit was nie omdat hulle bang was vir julle swaarde en pyle en boë nie, maar omdat Ek aan julle kant was.

13. Ek het vir julle ’n land gegee waarvan julle nie die lande bewerk het of die stede gebou het nie. Vandag bly julle in daardie stede en eet julle druiwe van wingerde en olywe van olyfbome wat julle nie self geplant het nie.

14. “Daarom,” het Josua gesê, “eer nou die Here en dien Hom met alles binne-in julle. Raak ontslae van die afgode wat julle voorouers in Mesopotamië en in Egipte gedien het en dien die Here!

Lees volledige hoofstuk Josua 24