Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 22:3-13 Die Boodskap (DB)

3. Julle het nie julle broers in die steek gelaat nie, al het die inname van die land so lank geneem. Julle het elke opdrag van die Here julle God nagekom.

4. Nou het die Here julle God sy belofte aan julle broers nagekom en hulle bly in vrede in hulle land. Julle kan nou teruggaan na julle eie land toe wat Moses vir julle gegee het, daar aan die oostekant van die Jordaan.

5. Maar maak seker dat julle die gebooie en die wet wat Moses vir julle gegee het, nakom. Julle moet die Here julle God liefhê, volgens sy wil lewe, sy opdragte uitvoer, getrou wees aan Hom en Hom dien met alles binne-in julle.”

6-8. Toe het Josua hulle met sy seën huis toe gestuur en gesê: “Julle gaan as ryk mense huis toe met baie vee, silwer, goud, brons, yster en mooi klere. Gaan deel hierdie rykdom met julle broers wanneer julle by die huis kom.” Hulle is toe daar weg huis toe. Moses het mos die gebied oos van die Jordaan vir die een helfte van die Manassestam gegee en Josua die deel aan die westekant vir die ander helfte.

9. Die stamme van Ruben, Gad en die halwe Manassestam het die Israeliete by Silo in Kanaän agtergelaat en die terugtog aangepak na hulle eie gebied toe in Gilead. Hierdie gebied het aan hulle behoort, soos die Here vroeër vir Moses gesê het.

10. Voordat die stamme van Ruben, Gad en die halwe Manassestam die Jordaan oorgesteek het, het hulle ’n groot en indrukwekkende altaar by Gelilot in Kanaän gebou.

11. Toe die res van die Israeliete hoor dat hierdie stamme ’n altaar by Gelilot aan die westekant van die Jordaan in Kanaän gebou het,

12. het hulle almal by Silo bymekaargekom en gereedgemaak om teen hulle broers aan die oostekant te gaan oorlog maak.

13. Maar voordat hulle iets verder gedoen het, het hulle eers ’n afvaardiging onder aanvoering van Pinehas die seun van die priester Eleasar na die stamme in Gilead toe gestuur.

Lees volledige hoofstuk Josua 22