Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 17:1-7 Die Boodskap (DB)

1. Die ander helfte van die stam van Manasse het toe hulle erfdeel gekry. Manasse was immers Josef se oudste seun. Makir, Manasse se oudste seun, die pa van Gilead, was ’n goeie soldaat en hy het reeds die gebiede van Gilead en Basan aan die oostekant van die Jordaan gekry.

2. Die res van die families van die Manassestam, Abiëser, Gelek, Asriël, Sekem, Gefer en Semida, het nou hulle deel ontvang. Hulle was almal manlike afstammelinge van Manasse en familiehoofde.

3. Selofgad het nie seuns gehad nie, maar wel vyf dogters: Magla, Noa, Gogla, Milka en Tirsa. Selofgad se voorouers se name was Gefer, Gilead, Manasse en Makir.

4. Selofgad se dogter het toe na die priester Eleasar, Josua en die leiers van die volk toe gegaan en vir hulle gesê: “Die Here se opdrag aan Moses was dat hy vir ons grond moes gee tussen ons familie.” Josua het toe vir hulle hulle erfdeel tussen hulle familie gegee, presies soos die Here beveel het.

5. Daarom het Manasse tien dele gekry, bo en behalwe Gilead en Basan aan die oostekant van die Jordaan,

6. want sy dogters het, net soos sy seuns, ’n deel van die land as besitting ontvang. Gilead het aan die res van die manlike afstammelinge van Manasse behoort.

7. Manasse se gebied strek van Aser af tot by Mikmetat, oos van Sigem. Van daar af loop die grens suid en sluit ook die gebied in waar die mense van En-Tappuag gebly het.

Lees volledige hoofstuk Josua 17