Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 14:6-13 Die Boodskap (DB)

6. By Gilgal het ’n afvaardiging van die stam van Juda onder leiding van Kaleb die seun van Jefunne, ’n Kenassiet, na Josua toe gekom. Kaleb sê toe vir Josua: “Jy onthou mos wat die Here vir Moses, die man van God, oor my en jou gesê het daar by Kades-Barnea.

7. Ek was 40 jaar oud toe Moses die Here se dienaar my van Kades-Barnea af gestuur het om die land te gaan verken. Die verslag wat ek teruggebring het, was eerlik.

8. My medeverkenners het egter die volk bang gepraat, maar ek was getrou aan die Here my God.

9. Daarom het Moses daardie dag ’n belofte aan my gemaak: ‘Die gebied waardeur jy geloop het, sal vir altyd aan jou en jou nageslag behoort omdat jy die Here jou God met jou hele lewe vertrou het.’

10. Soos jy kan sien, het die Here sy belofte aan my nagekom dat ek lewe en ook in die Beloofde Land sou ingaan. Vyf en veertig jaar gelede het die Here dit vir Moses gesê terwyl ons nog in die woestyn rondgetrek het. Wel, kyk na my, ek is nou ’n man van 85

11. en ek is nog net so sterk soos die eerste dag toe Moses my die land in gestuur het. Ek is nog tot enigiets in staat, selfs om oorlog toe te gaan.

12. My versoek is dat jy nou vir my die berggebied sal gee waarvan die Here daardie dag gepraat het. Jy sal onthou dat die Enakiete in hulle versterkte stede daar bly, maar as die Here by my is, sal ek hulle kan verdryf soos Hy belowe het.”

13. Hierop het Josua vir Kaleb geseën en Hebron aan hom as sy besitting gegee.

Lees volledige hoofstuk Josua 14