Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 10:7-21 Die Boodskap (DB)

7. Josua en al sy soldate het hulle dadelik te hulp gesnel, hy en sy soldate en al die dapper manne.

8. Die Here het vir Josua gesê: “Moenie vir hulle bang wees nie. Die oorwinning is joune. Nie een van hulle sal teen jou kan bly staan nie.”

9. Josua het die Amoriete onkant gevang, want hy en sy soldate het die hele nag deur getrek van Gilgal af.

10. Toe die Amoriete die Israelitiese soldate sien, het die Here hulle paniekbevange gemaak. Die Israeliete het hulle daar by Gibeon verslaan. Toe hulle op die vlug slaan, het die Israeliete hulle agternagesit deur die bergpas by Bet-Goron en hulle bly uitroei tot by Aseka en Makkeda.

11. Terwyl die Amoriete langs die bergpas by Bet-Goron af vir die Israeliete gevlug het, het die Here groot haelstene uit die lug op hulle laat neerreën. Hierdie hael het aangehou tot by Aseka en meer van hulle doodgemaak as Israel se soldate.

12. Op die dag waarop die Here aan Israel die oorwinning oor die Amoriete gegee het, het Josua voor die manskappe vir die Here hulp gevra en gesê: “Son, staan asseblief stil oor Gibeon en maan, oor die vallei van Ajalon.”

13. Toe het die son en maan nie beweeg nie totdat die volk hulle vyande verslaan het. So is dit ook opgeteken in die Boek van die opregte. Die son het in die middel van die hemel bly staan, vir byna ’n volle dag, en nie soos op ’n gewone dag ondergegaan nie.

14. Dit het nooit voor hierdie dag of ooit weer daarna gebeur nie. Maar op daardie dag het die Here na ’n mens se versoek geluister en dit gedoen omdat Hy vir Israel die oorwinning wou gee.

15. Hierna is Josua en sy soldate terug na die kamp toe in Gilgal.

16. Die vyf Amoritiese konings het egter gevlug en in ’n grot by Makkeda gaan wegkruip.

17. Toe Josua hoor dat iemand hulle wegkruipplek gekry het,

18. sê hy: “Rol groot klippe voor die ingang van die grot en kry mense om dit te bewaak.

19. Die res van julle agtervolg julle vyande en maak hulle dood, moenie toelaat dat hulle by hulle stede uitkom nie. Die Here julle God het hulle in julle mag oorgegee.”

20. Die Israelitiese soldate het hulle omtrent almal uitgeroei behalwe ’n paar wat weggekom het en in hulle versterkte stede gaan wegkruip het.

21. Daarna is Josua se soldate almal veilig na hom toe terug waar hy by Makkeda gewag het. Daarna het niemand dit weer gewaag om iets teen die Israeliete te sê nie.

Lees volledige hoofstuk Josua 10