Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 10:1-8 Die Boodskap (DB)

1. Koning Adoni-Sedek van Jerusalem het gehoor dat Josua Ai verower en heeltemal vernietig het en dat hy die koning van Ai doodgemaak het, net soos hy met Jerigo en sy koning gedoen het. Hy het ook gehoor dat die Gibeoniete vrede gemaak het met die Israeliete en nou by hulle bly.

2. Dit het die mense van Jerusalem baie bang gemaak, want Gibeon was ’n groot stad net soos enigeen van die ander koninklike stede; dit was selfs groter as Ai en die soldate van dié stad was baie goeie vegters.

3. Koning Adoni-Sedek van Jerusalem stuur toe die volgende boodskap aan koning Hoham van Hebron, koning Piram van Jarmut, koning Jafia van Lakis en koning Debir van Eglon:

4. “Kom help my om Gibeon aan te val en te vernietig, want hulle het ’n vredesverdrag met Josua en die Israeliete gesluit.”

5. Toe het hierdie vyf Amoritiese konings, die konings van Jerusalem, Hebron, Jarmut, Lakis en Eglon, hulle magte saamgesnoer en Gibeon aangeval.

6. Die mense van Gibeon het dadelik boodskappers na Josua toe gestuur waar hy in die kamp by Gilgal was en vir hom gesê: “Moet julle dienaar asseblief nie nou in die steek laat nie! Kom gou! Kom red ons! Al die Amoritiese konings van die berggebiede het saamgespan en ons aangeval!”

7. Josua en al sy soldate het hulle dadelik te hulp gesnel, hy en sy soldate en al die dapper manne.

8. Die Here het vir Josua gesê: “Moenie vir hulle bang wees nie. Die oorwinning is joune. Nie een van hulle sal teen jou kan bly staan nie.”

Lees volledige hoofstuk Josua 10