Ou Testament

Nuwe Testament

Joël 2:1-9 Die Boodskap (DB)

1. Blaas op trompette in Sion om die mense te waarsku, maak ’n groot geraas op die berg daar in Jerusalem waar my tempel staan!Bewe, mense van Juda, want die dag waarop die Here na ons toe kom, is naby!

2. Dit sal ’n donker, mistroostige dag wees. Swaar onweerswolke sal in die lug hang. Soos die dagbreek oor die berge verskyn, so skielik sal ’n groot swerm sprinkane verskyn. Hulle sal soos ’n leër soldate lyk. So iets vreesaanjaends is nog nooit voorheen gesien nie, en sal ook nooit weer gesien word nie.

3. Dit is of hulle soos ’n vuur alles voor en agter hulle sal verbrand. Voor hulle lyk die land soos die tuin van Eden, maar wanneer hulle daardeur getrek het, lyk dit net soos ’n woestyn sonder enige lewe. Niks of niemand kan voor hulle wegvlug nie.

4. Hulle lyk soos oorlogsperde wanneer hulle aankom en hulle hardloop ook net so vinnig.

5. Hulle klink soos strydwaens wat op pad is na die slagveld toe wanneer hulle oor die bergtoppe beweeg. Hulle knetter soos droë gras in ’n veldbrand. Hulle lyk net soos ’n magtige leër wat besig is om saam te trek voor die groot geveg.

6. Nasies bewe voor hulle van angs. Almal word bleek van benoudheid!

7. Hulle val aan soos sterk soldate en klim oor die stadsmure soos opgeleide troepe. Hulle ken net een pad en dit is reguit vorentoe. Nie een van hulle verander van koers

8. of kom in die ander een se pad nie. Hulle weet presies wat om te doen. Hulle breek deur elke verdediging asof dit nie bestaan nie. Daar is niks wat hulle kan keer nie.

9. Hulle loop die stad plat en hardloop oor al die mure; hulle klouter soos diewe deur die vensters.

Lees volledige hoofstuk Joël 2