Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 51:1-14 Die Boodskap (DB)

1. Julle wat probeer om reg te doen moet na My luister. Julle wat na die wil van die Here soek, moet luister. Onthou uit watter soort rots julle gekap is. Onthou uit watter steengroef julle kom.

2. Dink aan julle stamvader Abraham. Roep Sara, julle stammoeder, in herinnering. Ek het Abraham geroep toe hy nog nie kinders gehad het nie. Ek het hom voorspoedig gemaak. Hy het ’n groot nageslag gekry.

3. Die Here is jammer vir Sion. Hy gaan die puinhope van Jerusalem herstel. Hy gaan Juda se woestyn soos die tuin van Eden laat word. Die Here gaan die droë dele in tuine verander. Daar sal vreugde en vrolikheid in die stad wees. Hulle sal sing en vir die Here dankie sê.

4. My volk, julle moet na My luister. Luister mooi wat Ek vir julle sê: Ek sal die nasies leer hoe hulle moet lewe. Ek sal vir hulle met my reëls die koers aanwys.

5. Binnekort sal Ek hulle verlos. Ek is Koning oor die nasies. Die lande oorsee wag vir My. Hulle is gretig dat Ek oor hulle sal regeer.

6. Kyk op in die lug. Kyk af na die grond. Die lug sal soos rook verdwyn. Die aarde sal word soos ou klere wat uitmekaarskeur. Dié wat op die aarde woon, sal doodgaan soos muskiete. Die bevryding wat Ek bring, sal vir altyd hou. My redding het geen einde nie.

7. Julle wat weet wat reg is, moet na My luister. Julle is mos ’n volk wat die wil van die Here met julle hele hart soek. Julle moenie bang wees vir mense wat julle spot nie. Julle moenie skrik as hulle julle slegsê nie.

8. Hulle sal wees soos klere waaraan die motte vreet. Hulle is soos materiaal waarin daar vismotte is. Hulle hou nie vir altyd nie. Maar wat reg is, sal vir altyd hou. Wanneer Ek julle red, hou dit geslag op geslag.

9. Staan tog op, Here. Gryp in met u krag. Veg weer soos U in die ou tyd lank gelede geveg het. Dit was mos U wat die seemonster Rahab verslaan het. U het die seemonster vernietig.

10. Dit was U wat die water laat wegdroog het. U het onder op die bodem van die see ’n pad gemaak sodat dié wat U bevry het, deur die see kon gaan.

11. Dié wat die Here vrygemaak het, sal weer terugkom na Jerusalem. Hulle sal baie bly wees as hulle in Sion aankom. Die gesigte sal straal van vreugde. Hulle sal vol blydskap wees. Hulle hartseer en swaarkry sal verby wees.

12. Ek self praat jou moed in. Hoekom is jy dan bang vir ’n mens wat ook maar kan doodgaan? ’n Mens is mos maar soos gras wat ook kan verbygaan.

13. Jy vergeet dat die Here jou gemaak het. Hy het die lug daar bo oopgespan. Hy het die grond hier onder vasgemaak. Nogtans is jy die hele dag lank bang vir jou onderdrukker wat so wreed is om alles te verwoes. Hy kan jou niks meer maak nie.

14. Binnekort sal almal wat in tronke aangehou word, weer vrygelaat word. Hulle sal nie in die tronk doodgaan nie. Hulle sal nie langer honger ly nie.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 51