Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 49:16-26 Die Boodskap (DB)

16. Ek het jou naam op my hand geskryf. Ek dink heeltyd aan jou mure wat so verwoes is.

17. Dié wat jou mure sal herbou, is vinnig op pad na jou toe. Dié wat jou verwoes het, sal van jou af padgee.

18. Maak oop jou oë en kyk wat rondom jou gebeur. Al jou mense kom bymekaar om na jou toe terug te kom. So seker as Ek lewe, sê die Here, jy sal so bly wees wanneer hulle terugkom soos ’n vrou wat plesier het in haar juwele. Jy sal so tevrede wees soos ’n bruid met haar versiersels.

19. Op die oomblik is die hele stad vol bouvalle en puinhope. Jy is ’n land wat verwoes is. Maar as jou mense terugkom, sal daar nie genoeg plek wees vir almal om te woon nie. Daar sal niks meer te sien wees van die vyand wat jou vernietig het nie.

20. Die kinders wat gedurende die tyd van die wegvoering in ander lande gebore is, sal dan by jou kom kla: “Hier is nie genoeg plek vir ons om te bly nie. Gee vir ons meer plek om te bly.”

21. Dan sal jy jou afvra: “Waar kom al hierdie kinders vandaan? Ek het dan my kinders verloor en alleen agtergebly toe hulle na ’n ander land weggevat is. Van waar af kom hierdie kinders? Wie het hulle grootgemaak?”

22. Die Here sê: Ek sal my hand uitsteek na die nasies. Ek sal vir hulle ’n teken gee. Hulle sal julle seuns in hulle arms terugbring. Hulle sal julle dogters op hulle skouers dra.

23. Konings sal julle versorg. Koninginne sal na julle kinders kyk. Hulle sal oor hulle voete val om te doen wat julle wil hê. Julle sal dan weet dat Ek die Here is. Dié wat op My vertrou, sal nie teleurgestel word nie.

24. Jy vra: “Kan die buit wat ’n soldaat in die oorlog gemaak het, sommer van hom af weggevat word? Laat ’n magtige heerser sy gevangenes sommer vry?”

25. Die Here sê: Dit is presies wat gaan gebeur. ’n Persoon wat gevange geneem is, kan wel weer vrygelaat word. Wat ’n sterk man buitgemaak het, kan wel weer by hom afgeneem word. Ek sal self teen julle vyande veg. Ek sal self julle kinders bevry.

26. Jou vyande sal onder mekaar veg. Hulle sal dronk word van die bloed wat vloei. Almal sal dan weet dat dit Ek, die Here, is wat julle bevry en julle red. Ek is die sterk God van Jakob.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 49