Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 49:1-7 Die Boodskap (DB)

1. Die ander lande moet na my luister. Die lande wat ver weg is, moet fyn luister wat ek sê. Die Here het my geroep voordat ek gebore is. Hy het my alreeds ’n naam gegee voordat ek in die wêreld gekom het.

2. Hy het my woorde so skerp soos ’n swaard gemaak. Hy hou sy hand oor my om my te beskerm. Hy het my soos ’n skerp pyl gemaak wat Hy reghou in sy pylkoker om mee te skiet.

3. Hy het vir my gesê: Jy werk vir My. Jy is Israel. Deur jou wys Ek hoe groot Ek is.

4. Maar ek het gesê: “Ek het my verniet ingespan. Ek het my energie gemors op dinge wat geen voordeel het nie.” Nogtans glo ek die Here sal dit met my laat reg gaan. Hy sal my werk beloon.

5. Die Here het my voor my geboorte al gekies om vir Hom te werk. Hy het my bestem om Jakob na Hom toe terug te bring. Israel moet bymekaargemaak word. Ek is belangrik vir die Here. Hy gee my die krag om te doen wat Hy van my vra.

6. Hy het vir my gesê: Jy moet meer doen as om net die nageslag van Jakob bymekaar te maak. Daar is meer om te doen as om net dié wat nog oor is, terug te lei hierheen. Jy moet boonop ook my lig wees vir die nasies. Jy moet my redding uitdra na die uithoeke van die aarde.

7. Die Here red Israel. Hy is hulle groot God. Hy praat met die een van wie niemand iets dink nie. Die nasies dink hy is onbelangrik. Hy moet konings se vuilwerk doen. Die Here sê vir hom: Konings sal sien wat Ek vir jou doen. Hulle sal uit eerbied vir jou opstaan. Leiers sal voor jou buig ter wille van die Here wat sy woord hou. Hulle sal jou vereer ter wille van die hoë God van Israel wat jou gekies het om aan Hom te behoort.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 49