Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 45:1-12 Die Boodskap (DB)

1. Die Here laat Kores regeer. Hy maak hom sterk. Hy gee vir hom die krag om ander nasies voor hom te laat buig. Hy laat konings hulle wapens voor hom neerlê. Geen stad kan hom uit hou nie. Hy breek hekke oop om stede binne te val. Die Here sê vir hom:

2. Ek gaan voor jou uit. Ek maak jou pad gelyk. Ek breek koperdeure vir jou oop. Ek kap ysterslotte vir jou stukkend.

3. Ek gee vir jou die skatte wat in donker plekke bewaar word, die rykdom wat weggesteek word. Ek doen dit vir jou sodat jy kan weet dat dit Ek, die Here, die God van Israel is wat jou geroep het om te regeer.

4. Ek het spesifiek vir jou geroep. Ek doen dit ter wille van Jakob wat My dien, ter wille van Israel wat Ek gekies het om aan My te behoort. Ek het jou ’n spesiale posisie gegee, al het jy My nie geken nie.

5. Ek is die Here. Behalwe vir My is daar nie ander gode nie. Ek het jou sterk gemaak vir jou werk, al ken jy My glad nie.

6. Ek wil hê dat die hele wêreld moet weet dat daar niemand anders is behalwe Ek nie. Ek is die Here en daar is niemand anders naas My nie.

7. Dit is Ek wat die lig gemaak het, maar ook die donker. Vrede, maar Ek bring ook teëspoed. Ek is die Here. Ek het al hierdie dinge gemaak.

8. Ek sorg dat regverdigheid van bo uit die wolke neergiet soos reën. Ek laat die aarde geregtigheid indrink. Ek laat redding en geregtigheid soos ’n plant opskiet. Ek is die Here wat dit alles laat gebeur.

9. Daar wag probleme vir iemand wat staan en stry met die een wat hom gemaak het. Hy is soos ’n kleipot wat van klei gemaak is. Die klei kan mos nie vir die pottebakker sê nie: “Wat is jy besig om te doen? Weet jy dan nie wat om met jou hande te maak nie?”

10. Daar wag teëspoed vir iemand wat sy pa verwyt omdat hy hom gemaak het. Daar wag moeilikheid vir iemand wat vir sy ma vra hoekom sy hom in die wêreld gebring het.

11. Die Here, die hoë God wat vir Israel ’n volk gemaak het, sê vir hulle: Wil julle My nou voor stok kry oor my kinders? Wil julle vir My kom beduie wat Ek moet doen?

12. Dit is Ek wat die aarde gemaak het. Ek het die mense wat op die aarde woon, gemaak. Ek het met my hande die hemelruim daar bo oopgespan. Alles wat daarin is, luister wat Ek hulle beveel.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 45