Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 41:3-14 Die Boodskap (DB)

3. Hy agtervolg hulle. Hy oorwin hulle. Hy marsjeer met sy leër deur plekke waar hy nog nooit was nie.

4. Wie sal dit alles laat gebeur? Wie het nog van altyd af besluit wat met die mense moet gebeur? Dit was nog nooit enige iemand anders nie as net Ek, die Here. Ek was daar reg van die begin af. Ek sal nog steeds daar wees reg teen die einde.

5. Die lande wat oorkant die see is, het gesien wat gebeur het. Hulle het bang geword. Die lande oor die hele wêreld begin bewe. Hulle kom bymekaar om reg te maak vir oorlog.

6. Hulle praat mekaar moed in. Hulle sê vir mekaar: “Ons moet nou sterk wees.”

7. Die kunstenaar wat met yster werk, help die een wat met goud werk om gou ’n afgod te maak. Die een wat goud uitklop, staan by die een wat yster op die aambeeld smee. Hulle sê vir mekaar: “Ons vorder goed.” Hulle maak ’n afgodsbeeld en sit hom aanmekaar met klinknaels sodat hy nie uitmekaar kan val nie.

8. Maar jy hoef nie bang te wees nie, Israel. Jy behoort mos aan My. Jy is Jakob wat Ek vir My uitgekies het. Jy is my vriend Abraham se kind.

9. Ek het jou gaan haal by die heel verste plekke op die wêreld. Ek het jou laat kom van die uithoeke van die aarde af. Ek het vir jou gesê: “Kom bid tot My.” Ek het jou vir My uitgekies. Ek sal jou nooit in die steek laat nie.

10. Ek is by jou. Jy hoef nie bekommerd te wees nie. Ek is jou God. Jy hoef nie bang te wees nie. Ek sal jou help. Ek sal jou sterk maak. Ek sal jou met my krag beskerm.

11. Al jou vyande wat so kwaad was vir jou gaan maar sleg daarvan afkom. Almal wat met jou baklei het, sal verdwyn.

12. Jy sal verniet soek na die mense wat met jou rusie gemaak het. Die mense wat teen jou oorlog gemaak het, sal wegraak asof daar nooit sulke mense was nie.

13. Ek is mos die Here jou God. Ek sal jou hande sterk maak. Ek sê vir jou: Hou nou op om bang te wees. Ek self help jou dan.

14. Al is jy klein, Israel, en al voel jy soos ’n wurmpie, Ek sal jou help, sê die Here. Die groot God self gaan jou red, Israel.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 41