Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 33:14-23 Die Boodskap (DB)

14. Maar ook die sondaars en slegte mense in Jerusalem bewe van vrees. Hulle sê: “Die Here se oordeel is soos ’n verwoestende vuur wat vir ewig bly brand. Hoe kan ons hoop om in sy teenwoordigheid te oorleef?”

15. Slegs iemand wat ’n eerlike lewe lei en die waarheid praat, wat nie ander afpers om geld te maak nie en niks met omkopery te doen het nie, het die reg om naby die Here te kom. Moenie eers na iemand luister wat ’n moord of misdaad beplan nie.

16. As ’n mens so lewe, sal jy so veilig wees soos iemand wat in ’n sterk fort bly wat van klip gebou is en hoog op ’n berg staan met ’n oorvloed kos en water.

17. Met julle eie oë sal julle ’n koning sien wat in al sy koninklike majesteit oor ’n groot en uitgestrekte land regeer.

18. Die gedagte aan die tye van vreemde belastinggaarders en spioene wat die stad se militêre mag kom verken het, sal net ’n vae herinnering wees.

19. Julle sal daardie vermetele volk met die taal wat julle nie kan verstaan nie, nooit weer sien nie.

20. Maar kyk na Jerusalem, die stad waarin die feeste vir die Here gehou word. Jerusalem, ’n veilige, permanente blyplek. Dit is soos ’n tent wat nooit geskuif word nie, waarvan die tentpenne stewig en vas in die grond ingekap is en die toue wat dit regop hou, nooit breek nie.

21. Daar sal die Here vir ons sy mag wys. Ons sal langs breë riviere en strome bly, maar daar sal nie vyandige skepe op vaar wat ons kan aanval nie,

22. want die Here is ons Regter, ons Wetgewer en ons Koning. Hy sal ons red.

23. Die vyand se skepe sal nutteloos wees, die toue wat die maste stewig en regop moet hou, sal los hang en die seile sal nie gespan kan word nie.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 33