Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 30:19-26 Die Boodskap (DB)

19. Luister, mense van Sion, julle wat in Jerusalem woon, julle hoef nie meer te huil nie. Die Here sal julle help as Hy hoor julle roep na Hom en vra vir sy hulp. Hy sal julle gebede verhoor die oomblik wat Hy dit hoor.

20. Al het die Here vir julle verdrukking vir kos en swaarkry vir water gegee, sal julle sien dat Hy nog steeds bereid is om julle te leer.

21. Wanneer julle die pad byster raak, sal julle sy stem agter julle hoor sê: “Hier is die regte pad, loop hierlangs.”

22. Dan sal julle van al julle vuil goue en silwer afgode ontslae raak. Julle sal hulle soos ou, vuil lappe weggooi en sê: “Sies, ons wil die goed nie weer sien nie!”

23. Dan sal die Here julle in die planttyd met genoeg reën seën sodat julle wonderlike oeste sal hê. Daar sal volop weiding vir julle vee wees.

24. Die osse en die donkies wat julle gebruik om mee te ploeg sal goeie kos kry wat spesiaal vir hulle voorberei is.

25. Op die dag as julle vyande verslaan en hulle forte vernietig word, sal daar strome water van elke heuwel en berg af vloei.

26. Dan sal die maan net so helder soos die son skyn en die son sal sewe keer skerper as gewoonlik wees, byna asof al die sonlig van sewe dae bymekaargesit is op een dag. Dit is hoe dit sal lyk op dié dag wanneer die Here sy volk se stukkende plekke verbind en die wonde wat Hy hulle toegedien het, weer gesond maak.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 30