Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 26:9-21 Die Boodskap (DB)

9. Selfs in die nag verlang ek na U. Ek kan nie wag vir die môre om te kom nie. As die wêreld na U luister, leer hulle wat regverdigheid beteken.

10. As ’n mens net goed is vir iemand wat kwaad doen, leer hy nooit wat reg of verkeerd is nie. Ten spyte van ander mense se eerlikheid bly hulle oneerlik, want hulle erken nie die gesag van die Here nie.

11. U staan reg om hulle te straf, Here, maar hulle steur hulle nie daaraan nie. Verneder hulle, Here, laat hulle voel hoe dit voel as U met al u mag op hulle afkom; dan sal hulle agterkom hoe lief U vir u volk is.

12. Ons is ryk, Here, maar alles wat ons bereik het, is as gevolg van wat U vir ons gedoen het.

13. Here ons God, ons het al konings gehad wat oor ons regeer het, maar vir U, Here, aanbid ons.

14. Hulle is dood en vergete, hulle tyd is vir altyd verby. U het hulle gestraf en hulle uitgeroei. Niemand kan hulle eens meer onthou nie.

15. Ons loof U, Here, want U het ons ’n magtige nasie gemaak en ons grense na alle kante toe vergroot.

16. Toe ons in die nood was, het ons na U toe gevlug, Here. Toe ons swaargekry het omdat U ons gestraf het oor ons sonde, het ons by U hulp gaan soek.

17. Voor U het ons soos ’n swanger vrou wat op die punt is om geboorte te skenk, gekerm en gekrul van die pyn.

18. Maar ten spyte van die geboortepyne het ons nie geboorte geskenk nie. Ons het niks vir ons land gedoen of iets noemenswaardigs bereik nie.

19. Maar ons het darem hierdie troos: dié wat aan die Here behoort, sal opstaan en weer lewe. Die dooies sal opgewek word en van vreugde oor U jubel. Net soos die dou elke oggend nuwe lewe aan die aarde gee, so sal die Here dié wat lank reeds dood is, nuwe lewe gee.

20. Gaan huis toe, my volk, en sluit julle deure toe. Kruip daar weg totdat die Here se woede teen julle vyande afgekoel het.

21. Kyk, die Here kom uit die hemel uit om die mense van die aarde te straf oor hulle sonde. Dan sal niks meer geheim bly nie, elke moord wat gepleeg is, sal aan die lig kom, alles sal bekendgemaak word.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 26