Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 14:1-12 Die Boodskap (DB)

1. Maar die Here sal vir Israel jammer kry. Daarom sal Hy hulle weer sy volk maak en hulle terugbring na hulle eie land toe sodat hulle daar kan bly. Mense van ander volke sal by hulle kom aansluit en op dié manier deel word van Jakob se nageslag.

2. Die nasies van die wêreld sal die Here se volk help om na hulle eie land toe terug te keer. Dié wat saam met hulle daarheen teruggaan om daar te gaan woon, sal vir hulle werk. Dié wat Israel gevange geneem het, sal nou deur Israel gevange geneem word en hulle sal regeer oor die mense wat hulle verdruk het.

3. Wanneer die Here julle van al die lyding, ellende en harde dwangarbeid verlos,

4. sal julle hierdie spotlied oor die koning van Babel sing:En toe, verdrukker, nou is dit verby met jou! Jou dae as tiran is getel.

5. Die Here het jou bose mag gebreek en ’n einde gemaak aan die mag van die wreedaards wat jy aangestel het.

6. Hulle het die volke wat hulle oorgeneem het, sonder ophou vervolg en hulle genadeloos laat swaarkry. Hulle het geen perke geken nie.

7. Maar daardie tyd is verby. Daar is weer rus en vrede in die wêreld; die mense sing selfs weer.

8. Selfs die sipresbome en die seders van die Libanon sing van blydskap oor wat met jou gebeur het. “Vandat jy verslaan is, kom niemand ons meer afkap nie!” sing hulle.

9. Die doderyk is in rep en roer soos hulle regmaak vir jou koms. Dié wat daar is, kan skaars hulle opgewondenheid bedwing. Die wêreldleiers wat alreeds daar in die donkerte van die dood is, spring van opgewondenheid op om jou te verwelkom.

10. In ’n koor klink dit: “En toe, nou is jy net so ’n swakkeling soos enigeen van ons! Ja-nee, jy is een van ons!

11. Jy was gewoond aan pragtige musiek en eerbetoon waar jy vandaan kom. Welkom in die doderyk, hier is jou bed van goggas gemaak en daar is vir jou ’n kombers van wurms!”

12. Koning van Babel, jy wat gedink het jy is soos die môrester wat hoër sit as al die ander sterre, kyk nou net hoe het jy uit die hemel geval! Kyk hoe hulpeloos lê jy hier op die grond, en dit nogal jy, die een wat soveel ander nasies op hulle knieë gedwing en platgeloop het.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 14