Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 10:7-20 Die Boodskap (DB)

7. Maar die koning van Assirië het sy eie idees hieroor. Sy plan is om verwoesting te saai en baie nasies in die proses uit te roei.

8. Hy spog en sê: “Al my offisiere gaan nog konings word wat oor ’n gebied regeer wat ek verower het.

9. Die een hoofstad na die ander moes die knie voor my mag buig. Karkemis, Hamat, Arpad, Samaria en Damaskus, nie een van hulle kon weerstand bied nie.

10. Ek het lande ingeneem wat selfs nog meer afgode gedien het as Jerusalem en Samaria.

11. Ek het klaar met Samaria en sy gode afgereken, nou is dit Jerusalem en sy gode se beurt!”

12. Wat die koning van Assirië nie besef nie, is dat nadat die Here hom gebruik het om sy doel met Sion en Jerusalem te bereik, Hy teen hom gaan draai en hom gaan straf omdat hy so vol is van homself.

13. Want hy spog mos: “Ek het dit alles op my eie gedoen. Ek is sterk en slim en wêreldwys. Ek het volk na volk platgeloop, hulle voorrade geplunder en hulle mense soos ’n verwoede bul voor my weggestamp en platgetrap.

14. Die koninkryke van die wêreld was vir my soos ’n voëlnessie, ek het hulle rykdom so maklik by hulle afgevat as wat ’n mens eiers uit ’n nes uithaal. Soos ’n verskrikte voël het nie een van hierdie lande ’n vlerk geklap om my te probeer afskrik nie.”

15. Die Here vra egter: Kan ’n byl hom ooit verbeel dat hy belangriker is as die een wat met hom kap? Of kan ’n saag dink hy kan iets afsaag sonder die mens wat hom gebruik? Dis tog nie die lat wat die persoon wat dit opgetel het, rondswaai nie? Kan ’n kierie dalk op sy eie opstaan en loop?

16. Daarom gaan die Here die Almagtige die verwaande mense van Assirië laat krepeer van ellende en al die koning se skatte wat hy bymekaargemaak het, vernietig met ’n onblusbare vuur.

17. God, die Lig van Israel, sal die vuur wees, die heilige God van Israel is die vlam wat hulle onbelangrike mense, die dorings en die onkruid, in ’n oogwink tot as verbrand.

18. Ook Assirië se magtige leër, wat soos ’n magtige bos is wat op vrugbare grond geplant is, sal vernietig word. Die Here sal hulle laat agteruitgaan soos iemand wat deur ’n ongeneeslike siekte aangetas is.

19. Daar sal so min bome in hierdie magtige bos wat Assirië was, oorbly dat selfs ’n klein kindjie hulle sal kan tel.

20. In daardie tyd sal die klein groepie Israeliete wat uit die nageslag van Jakob oorgebly het, nie meer hulp gaan soek by Assirië wat hulle in die grond in vertrap het nie. Nou sal hulle net op die Here, die heilige God van Israel, vertrou.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 10