Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 9:3-11 Die Boodskap (DB)

3. “My volk se leuens tref mense soos pyle. Hulle sorg nie dat die waarheid wen nie, maar die leuens. Die verkeerde goed wat hulle doen, word net al hoe erger. Hulle gee niks meer vir My om nie,” sê die Here.

4. “Pas op vir jou vriende! Moenie jou familie of jou volksgenote enigsins vertrou nie! Hulle is almal rugstekers en versprei vals stories oor mekaar.

5. Vriende lieg en bedrieg mekaar. ’n Mens kry net nie meer iemand wat die waarheid praat nie. Dit is al ’n tweede natuur vir hulle om nie die waarheid te praat nie. Baie van hulle is al so vasgevang in hulle valsheid dat hulle nie meer kan ophou om verkeerd te doen nie.

6. Hulle hou net aan om leuen op leuen te vertel. So ver as wat hulle gaan, bedrieg hulle mense. Hierdie mense is veronderstel om my mense te wees, maar hulle weier om enigiets met My te doen te hê,” sê die Here.

7. Die Here is sterker as alles en almal. Hy sê: “Ek sal hulle toets vir suiwerheid soos ’n mens met metaal maak wat jy deur ’n smeltoond laat gaan. Ek kan niks anders doen as my volk so verkeerd maak nie.

8. Hulle tong is soos giftige pyle. Met hulle leuens bedrieg hulle ander mense. Hulle praat met mekaar asof hulle vriende is, maar in hulle hart maak hulle planne om van mekaar ontslae te raak.

9. Behoort Ek hulle nie oor hierdie manier van dink en doen te straf nie?” vra die Here. “Ja, Ek sal wraak neem op hierdie nasie.”

10. “Ek huil omdat daar nie meer weiding vir die diere teen die hange van die berge is nie. Die ou weivelde lê ook verwaarloos en niemand gebruik dit meer nie. My hart is stukkend daaroor. ’n Mens hoor ook nie meer die beeste se gebulk nie. Selfs die voëls en die wilde diere het almal padgegee.”

11. Die Here sê: “Ek sal Jerusalem soos ’n bouval maak. Dit sal ’n plek wees waar die jakkalse graag sal lê. Die stede van Juda sal leegloop, want niemand sal meer daarin bly nie.”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 9