Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 7:28-34 Die Boodskap (DB)

28. Sê vir hulle: Julle is die volk wat nie na die Here julle God wou luister nie. Julle laat julle ook nie leer nie. Hulle ken nie meer iets soos waarheid nie. Dit is nie iets wat oor hulle lippe kom nie.

29. Mense van Jerusalem, sny julle hare af en gooi dit weg. Sing ’n treurlied op die kaal heuwels. Die Here het julle verwerp. Hy sal julle in die steek laat, want julle het Hom baie kwaad gemaak.”

30. Die Here sê: “Die mense van Juda het verkeerde dinge gedoen waarvan Ek net mooi niks hou nie. Hulle het beelde van afgode in my tempel gesit. Deur dit te doen het hulle gemaak dat die tempel nie meer ’n spesiale plek vir die Here was nie.

31. Hulle het ’n heidense offerplek gebou en dit Tofet genoem. Hulle het dit in die Hinnomlaagte gedoen. Daar het hulle hulle seuns en dogters met vuur verbrand. Ek het nooit opdrag gegee dat hulle sulke afgryslike goed moet doen nie. Dit is nie eens iets waaraan Ek sou dink nie.

32. Daarom sê die Here: Pas op, die tyd kom dat hierdie plek nie meer Tofet of die Hinnomlaagte genoem sal word nie, maar Moorddal. Hulle sal so baie mense in Tofet begrawe dat daar nie plek vir al die grafte sal wees nie.

33. Die lyke van my mense sal kos wees vir die aasvoëls en die wilde diere. Niemand sal eens oor wees om hulle te verwilder nie.

34. Ek sal die vrolike sang en die lekker gelag van die mense in die strate van Jerusalem stil maak. Selfs in die stede van Juda sal ’n mens nie meer die opgewonde stemme van bruidegomme en bruide hoor nie. Die land sal ’n verlate plek van bouvalle wees.”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 7