Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 5:12-22 Die Boodskap (DB)

12. Hulle het leuens oor die Here vertel en gesê: ‘Hy sal niks aan ons doen nie. Geen moeilikheid sal oor ons kom nie. Nie oorlog nie, ook nie hongersnood nie.

13. Die profete, die Here se boodskappers, se woorde is soos wind. Wat hulle praat, kom nie van die Here af nie. Mag die slegte dinge wat hulle sê gaan gebeur, op hulle eie kop afkom.’”

14. Die Here is sterker as alles en almal. Hy sê: “Omdat dit hulle praatjies is, Jeremia, sal Ek my woorde in jou mond soos vuur maak. Die boodskappe sal hierdie mense brand asof hulle vuurmaakhout is.”

15. Verder sê die Here vir Israel: “Ek laat ’n volk wat van ver af kom, teen julle optrek. Dit is ’n baie ou en sterk volk. Julle ken nie eens hulle taal nie en sal nie ’n woord kan verstaan wat hulle sê nie.

16. Die wapens wat hulle gebruik, is dodelik en hulle soldate baie sterk.

17. Hulle sal alles wat hulle in die hande kry, opeet. Hulle sal die oes opeet en ook al julle kos. Verder sal hulle ook julle kinders doodmaak en die kleinvee en beeste slag. Maar dit is nog nie die einde nie. Hulle sal julle wingerde en vyebome verniel. Julle het van julle stede sterker gemaak met mure en dik deure en gedink dat julle daarin veilig sal wees. Maar die waarheid is dat hulle hierdie stede ook sal verwoes.”

18. Maar hoor wat sê die Here: “In hierdie verskriklike tyd wat al hierdie dinge sal gebeur, sal Ek julle nie totaal uitwis nie.

19. As die mense sou vra waarom doen die Here hierdie dinge aan ons, moet julle antwoord: ‘Ons het die Here verraai en ander vreemde gode hier in ons eie land begin dien. Nou sal ons vreemde mense in ’n vreemde land moet dien.’”

20. Gaan sê vir die mense van Israel in die noordelike koninkryk en Juda in die suidelike koninkryk:

21. “Luister hier, julle dom en onverstandige volk. Julle het oë, maar julle sien niks. Julle ore hoor ook nie.

22. Het julle geen respek vir My nie?” vra die Here. “Is julle nie bang vir My nie? Ek het met die sand die grense vir die see getrek. Die see mag nie by hierdie grense verbygaan nie. Die branders van die see kan maar hoog opswel, hulle sal nie daaroor kan slaan nie. Hulle kan maar hard dreun, hulle sal nog steeds nie verby die sand kan kom nie.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 5