Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 49:15-20 Die Boodskap (DB)

15. Die Here sê: “Ek maak julle so klein onder die nasies, Edom, dat niemand meer iets van julle sal dink nie. Hulle sal julle verag.

16. Die ander volke is baie bang vir julle. Julle dink ook vreeslik baie van julleself. Maar dit het julle eintlik ’n vals idee gegee oor hoe goed julle is. Julle bly ook in rotsskeure en domineer die hoogste dele van die heuwels. Maar al bly julle soos arende op die hoë pieke van die berge, sal Ek julle hard aarde toe bring. Ek, die Here, sê dit is wat sal gebeur!

17. Almal sal aan die bewe gaan as hulle sien wat met Edom gebeur het. Mense wat daar verbygaan, sal ontsteld wees en na hulle asem snak oor al die rampe wat Edom getref het.

18. Die vernietiging van Edom sal net so erg wees as toe Sodom en Gomorra en die dorpe in die omgewing verwoes is. Niemand sal meer daar bly nie.

19. Ek sal skielik op die mense van Edom afstorm soos ’n leeu wat uit die bosse by die Jordaan kom op soek na ’n prooi in die groen weivelde. Ek sal hulle uit hulle eie land laat weghardloop. Dan sal Ek ’n leier van my keuse oor hulle aanstel. Want wie kan met My vergelyk word? Wie kan dink om My uit te daag? Nie een van hulle leiers kan teen My opstaan nie.

20. Luister mooi na wat die Here vir Edom en die mense van Teman beplan. Selfs die klein kindertjies sal uit hulle land weggevat word. Die res van die mense sal geskok wees oor wat met hulle gebeur.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 49