Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 4:6-13 Die Boodskap (DB)

6. Stuur ’n sein na Jerusalem toe en waarsku hulle: Moenie wag nie, vlug vir julle lewe! Ek bring ’n groot ramp oor julle. Dit sal uit die noorde na julle toe aankom.

7. Iemand wat nasies vernietig, is op pad na julle toe. Hy maak net soos ’n leeu wat uit sy lêplek opstaan en sy prooi bekruip. Hy sal groot skade aan die land doen en verwoesting in julle stede saai. Daar sal geen mense in die stede meer bly nie.

8. Trek julle begrafnisklere aan en huil uit julle stukkende harte. Die Here is nog verskriklik kwaad vir ons.”

9. Die Here sê: “In daardie tyd sal die koning en die amptenare se moed hulle begewe. Die priesters sal verslae wees en die profete sal verstom staan.”

10. Toe het ek gesê: “Ag Here, my God, U het die volk en Jerusalem mos mislei deur te sê dit sal met hulle goed gaan. Hulle lewe is dan nou in gevaar!”

11. Dan sal die Here vir hierdie volk en vir die mense van Jerusalem sê: “’n Wind uit die woestyn wat so warm soos vuur is, waai oor die heuwels in die rigting van my volk. Dit is nie ’n ligte windjie waarmee ’n mens die kaf uit graan waai nie.

12. Nee, Ek stuur ’n wind wat baie sterker as dit waai. Ondergang is julle voorland,” sê die Here.

13. Ons vyand kom soos groot onweerswolke aan. Sy oorlogstuie kom aangejaag soos ’n orkaan. Sy perde is selfs vinniger as arende. Ons staan geen kans nie, dit is verby met ons!

Lees volledige hoofstuk Jeremia 4