Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 38:16-28 Die Boodskap (DB)

16. Sedekia het toe in die geheim vir Jeremia belowe: “So seker as die Here leef wat vir ons lewe gee, ek sal jou nie doodmaak nie. Ek sal jou ook nie oorgee aan die mense wat jou dood wil sien nie.”

17. Jeremia het toe vir Sedekia gesê: “Die Here is die God van Israel. Hy is sterker as alles en almal. Hy sê: As u u aan die offisiere van die Babiloniese koning oorgee, sal u en u familie bly lewe. Die stad sal dan ook nie verbrand word nie.

18. Maar as u nie wil oorgee nie, is daar geen kans vir u om weg te kom nie. Jerusalem sal in die hande van die Babiloniërs val. Hulle sal die stad aan die brand steek.”

19. Hierop het koning Sedekia geantwoord: “Ek is bang die Babiloniërs gee my dalk oor aan die Jode wat reeds na hulle toe oorgeloop het. Hulle sal my mishandel.”

20. Jeremia het geantwoord: “Hulle sal u nie oorgee nie. As u doen wat ek sê, sal u aan die Here gehoorsaam wees. Dit sal dan met u goed gaan. U lewe sal gespaar word.

21. Die Here het vir my gewys wat sal gebeur as u weier om oor te gee:

22. Al die vroue wat nog in die paleis oor is, sal uitgebring word na die offisiere van die Babiloniese koning. Hulle sal sê: ‘U sogenaamde vriende het u in die steek gelaat. Hulle het u mislei. Noudat u in die moeilikheid beland het, waar is u vriende nou?’

23. “Hulle sal al u vroue en kinders na die Babiloniërs toe uitbring. U self sal ook nie kan ontsnap nie. Die koning van Babel sal u vang en hierdie stad afbrand.”

24. Sedekia het toe vir Jeremia gesê: “Jy moet vir niemand vertel wat jy vir my gesê het nie. Doen jy dit, is jy dood!

25. My amptenare mag nie hoor dat ek met jou gepraat het nie. Hulle sal sê: ‘Ons wil weet waaroor jy en die koning gepraat het. Wat het jy vir hom gesê? Jy moet niks vir ons wegsteek nie! As jy nie vir ons wil sê nie, sal ons jou doodmaak.’

26. Jeremia, as dit wel so gebeur, sê vir hulle jy het my kom smeek om jou nie na die tronk by Jonatan se huis terug te stuur nie. Sê jy is bang jy gaan daar dood.”

27. Soos verwag, was dit nie lank nie of die amptenare het by Jeremia uitgekom. Hulle wou weet hoekom die koning hom laat kom het. Maar Jeremia het geantwoord soos die koning hom gevra het om te sê. Hulle is by hom weg sonder om die waarheid uit te vind. Daar was niemand van hulle wat gehoor het wat tussen die koning en Jeremia gesê is nie.

28. Jeremia het in die wagte se gedeelte van die paleis gebly totdat Jerusalem die dag ingeneem is.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 38