Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 33:13-22 Die Boodskap (DB)

13. Daar sal weer genoeg skape in die land wees om te tel. Dit sal gebeur in die stede van die heuwelgebied, die westelike hange, die Negev in die suide. Verder ook in die grondgebied van Benjamin, in die omgewing van Jerusalem en al die stede van Juda. Ek, die Here, sê dit sal gebeur!”

14. Die Here sê ook: “Die dag sal kom dat Ek al die beloftes wat Ek aan Israel en Juda gemaak het, waar laat word.

15. Dit is ook dié tyd dat Ek ’n wettige erfgenaam van Dawid koning sal maak. Hy sal sorg dat mense deur die hele land regverdig behandel word en doen wat reg is.

16. In dié tyd sal Juda uit die mag van hulle vyande gered word. Jerusalem sal weer ’n veilige plek vir mense wees om te bly. En die mense sal die stad noem: ‘Die Here doen reg aan ons.’”

17. Die Here sê: “Daar sal altyd iemand uit die nageslag van Dawid koning wees oor Israel.

18. Daar sal ook altyd priesters wees wat nakomelinge is van die Leviete. Hulle sal al die soorte offers bring om My mee te dien.”

19. Die Here het toe vir Jeremia gesê:

20. “Ek het ’n ooreenkoms met die dag en die nag om op vaste tye te begin. As julle dit kan regkry om hierdie ooreenkoms verbreek te kry,

21. dan, en dan alleen, sal my ooreenkoms met Dawid wat in my diens was, verbreek kan word. Net as dit gebeur, sal hy nie meer ’n opvolger uit sy familie as koning hê nie. Dieselfde geld vir die priesters uit die Leviete. Daar sal altyd iemand van hulle vir My by die tempel werk.

22. Dit is nie moontlik om die sterre te tel nie. Dit is ook onmoontlik om vas te stel hoeveel sand op die strande is. Die nageslag van Dawid wat kom, sal so baie word dat hulle soos die sterre en die seesand sal wees. ’n Mens sal hulle nie kan tel nie. Dieselfde geld ook vir die Leviete.”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 33