Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 31:1-9 Die Boodskap (DB)

1. Die Here sê: “In daardie tyd sal Ek al die families van Israel se God wees en hulle sal my volk wees.”

2. Hy sê verder: “Die mense wat gevegte oorleef het waarin hulle maklik dood kon gewees het, sal beter daaraan toe wees in die woestyn. Ek sal aan die mense van Israel kalmte en rus gee.”

3. Lank gelede reeds het die Here vir Israel gesê: “Ek het julle liefgehad met ’n liefde wat nooit ophou nie. Daarom sal Ek altyd lojaal aan julle bly.

4. Ek sal julle weer die volk maak wat julle vroeër was, Israel. Julle sal soos jongmeisies van blydskap dans en op tamboeryne speel.

5. Julle sal weer wingerde teen die hange van die Samariaberge plant. Wanneer die wingerde druiwe gee, sal julle die vrugte kan geniet wat julle self geplant het.

6. Daar sal ook ’n dag kom waarop die wagte wat in die heuwels van Efraim is, sal uitroep: ‘Kom ons gaan na Jerusalem toe. Die Here is daar!’”

7. Die Here sê: “Sing omdat julle bly is oor Israel. Israel is die gelukkigste volk van al die volke. Skree dit hard uit! Gee eer aan die Here. Vertel van alles wat Hy gedoen het. ’n Deel van die mense van Israel het die tyd wat hulle gevangenes in Babel was, oorleef. Dit is die Here wat sy mense weer vrygemaak het.

8. Ek sal hulle uit die noorde terugbring na hulle eie land toe. Selfs al is hulle op die uithoeke van die aarde, sal Ek hulle bymekaarmaak en terugbring. Ek sal ook nie die blinde en kreupel mense vergeet nie. Ek sal ook nie van die vroue wat babas verwag of wat op die punt is om ’n baba te hê, vergeet nie. ’n Groot klomp mense sal terugkom na hulle land toe.

9. Trane van blydskap sal oor hulle gesig loop. Ek sal hulle troos en hulle versigtig na hulle eie land toe teruglei. Ek sal hulle langs waterstrome lei. Hulle sal op paaie loop wat gelyk is sodat hulle nie sal val nie. Ek is Israel se pa. Efraim is my oudste kind.”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 31