Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 30:13-24 Die Boodskap (DB)

13. Daar is niemand wat julle kan help nie. Daar is ook nie medisyne vir julle wonde nie. Verder is daar geen hoop dat julle gesond sal word nie.

14. Al die mense met wie julle ooreenkomste aangegaan het om julle te help, het julle in die steek gelaat. Hulle gee nie om wat van julle word nie. Ek het julle aangeval soos ’n mens met ’n vyand sou maak. Ek het julle sonder enige genade gestraf. Julle het baie verkeerde dinge gedoen. Julle is aan soveel goed skuldig, dit is te veel om op te noem.

15. Waarom roep julle so hard uit oor julle seerkry? Niks kan die pyn laat verdwyn nie. Ek straf julle omdat julle so baie dinge verkeerd gedoen het. Julle is deur en deur skuldig.

16. Maar dit is ook so dat die mense wat julle probeer vernietig, self deur ander vernietig sal word. Al julle vyande sal self ook gevang en na ander lande toe weggevat word. Almal wat julle probeer onderdruk, sal self voel wat dit is om deur ander mense onderdruk en uitgebuit te word. Die mense wat julle besteel, sal op hulle beurt weer deur ander mense besteel word. Mense wat dit waag om julle aan te val sal self aangeval word.”

17. Die Here sê: “Ek sal sorg dat dit weer met julle goed sal gaan. Ek sal julle wonde gesond maak. Op die oomblik praat hulle van julle as ‘mense wat verstoot is; Jerusalem vir wie niemand meer omgee nie’.

18. Maar Ek sal Israel se omstandighede verander. Ek sal hulle terugbring na hulle ou blyplek toe omdat Ek vir hulle omgee. Jerusalem sal weer op sy ou plek gebou word. Die paleis sal ook herbou word soos dit oorspronklik gelyk het.

19. Hulle sal weer vrolik wees en liedere sing omdat hulle dankbaar is. Ek sal sorg dat my mense se getalle groei. Hulle sal ’n groot volk wees wat deur ander gerespekteer word.

20. Dit sal met hulle kinders goed gaan soos vroeër. Ek sal weer sorg dat hulle my volk is. As iemand dit sou waag om hulle te onderdruk, sal Ek hulle straf.

21. Hulle sal nie deur iemand van ’n ander nasie regeer word nie. Een van hulle eie mense sal koning wees. Ek sal hom nooi om naby My te kom en hy sal kom. Wie sou dit waag om voor My te kom staan as Ek hom nie genooi het nie?” vra die Here.

22. “Julle sal my eie mense wees, my volk, en Ek sal julle God wees.”

23. Maar neem kennis, die Here se woede is soos ’n storm wat losbars. Dit is soos ’n orkaan wat die slegte mense sal tref.

24. Die Here se woede is iets vreesliks. Dit sal nie bedaar nie totdat Hy gedoen het en bereik het wat Hy beplan. As die tyd aanbreek dat hierdie dinge gaan gebeur, sal julle dit verstaan. Alles sal dan duidelik word.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 30