Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 3:19-25 Die Boodskap (DB)

19. “Ek het by Myself gedink: Ek sal daarvan hou om julle soos my eie kinders te behandel. Ek sou graag hierdie mooi land vir julle wou gee. Nie een van die nasies se grondgebied is naastenby so mooi soos hierdie land nie. Verder wou Ek baie graag hê dat julle vir My ‘Vader’ moes sê en nooit weer die rug vir My sou draai nie.

20. Maar soos dit soms met getroude mense in ’n huwelik gaan waar een van hulle die ander een kul, so het julle ook met My gemaak, Israel,” sê die Here.

21. Op die heuweltoppe hoor ’n mens uitroepe. Dit is die gehuil en gesoebat van Israel se mense. Hulle huil, want hulle besef dat hulle op ’n verkeerde koers is. Hulle het van die Here vergeet.

22. Die Here sê: “My kinders, julle het My in die steek gelaat. Maar kom terug na My toe en Ek sal julle van julle skandelike optrede gesond maak.” Hierop het hulle geantwoord: “Ja, Here, ons wil terugkom, want U is die Here, ons God!

23. Die lawaaierige manier waarop die gode op die heuwels en die berge vereer word, is ’n groot klugspul. Dit is net die Here ons God wat Israel kan help en vry maak.

24. Van ons kinderjare af al het die skandelike afgod Baäl alles laat misluk waarvoor ons voorouers gewerk het. Dit sluit in hulle beeste, skape en selfs ook hulle kinders.

25. Ons wil in die aarde sink van skaamte. Ons wil wegkruip van skaamte. Ons en ons voorouers het oor die jare verkeerde dinge gedoen waarvan die Here ons God nie hou nie. Die waarheid is dat ons ongehoorsaam aan die Here was.”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 3