Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 20:1-9 Die Boodskap (DB)

1. Pasgur was die seun van Immer. Hy was die priester wat in beheer van sake by die tempel was. Pasgur het gehoor wat Jeremia vir die mense by die tempel gesê het.

2. Hy het Jeremia gevang en hom laat slaan. Daarna het hy Jeremia se voete in ’n blok laat vasmaak by die boonste Benjaminingang van die Here se tempel.

3. Die volgende dag het Pasgur vir Jeremia vrygelaat. Toe het Jeremia vir hom gesê: “Pasgur, die Here het jou naam verander. Hy noem jou nou ‘Die man wat in angs lewe’.

4. Want dit is wat die Here sê: Ek sal jou en jou vriende lam van vrees maak. Jou vriende sal voor jou oë deur die vyand doodgemaak word. Ek gee die hele bevolking van Juda oor in die hande van die koning van Babel. Hy sal party van die mense vang en na Babel wegvat as sy gevangenes. Ander sal hy met die swaard doodmaak.

5. Ek sal toelaat dat die vyand Jerusalem kaal stroop. Hulle sal al die rykdom in die stad, al die voorraad, al die waardevolle artikels en die skatte van die konings van Juda roof en na Babel toe vat.

6. Jy, Pasgur, en ook jou familie sal as gevangenes na Babel toe weggevat word. Daar sal jy doodgaan en begrawe word. Dieselfde sal ook gebeur met al jou vriende vir wie jy leuens vertel het oor wat gaan gebeur.”

7. Jeremia het gebid: “Here, U het my omgepraat om u boodskapper te wees. Maar om die waarheid te sê, ek het my laat ompraat. U is baie sterker as wat ek is. U het my onkant gevang. Ek kon nie weerstand bied nie. Nou is ek die voorwerp van spot vir almal. Almal lag vir my.

8. As ek my mond moet oopmaak om te praat, moet ek uitroep ‘geweld!’ en ‘vernietiging!’ Die boodskap wat U vir my gegee het, het my elke oomblik van die dag ’n bespotting by die mense gemaak.

9. Ek het al by myself gedink ek sal niks van die Here sê of namens Hom praat nie. Maar ek kan net nie ophou nie. Die boodskap van die Here brand in my binneste soos ’n vuur. Dit is soos vuur wat in my liggaam ingehok is. Ek probeer so hard as wat ek kan om dit binne te hou, maar ek kan nie.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 20