Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 17:5-15 Die Boodskap (DB)

5. Die Here sê: “Dit sal sleg gaan met iemand wat nie op My vertrou nie, maar op ander mense. Mense is ook maar net vleis en bloed. Die een of ander tyd gaan hulle dood.

6. So iemand is soos ’n bossie in die droë veld. Die bossie staan in ’n droë deel van die woestyn, in dooierige grond. Dit is ’n gebied waar niemand regtig kan bly nie. Die toekoms lyk glad nie goed vir so ’n mens nie.

7. Maar dit sal goed gaan met mense wat My vir alles vertrou. Dit gee hulle moed vir die toekoms.

8. Hulle is soos bome wat langs ’n rivier staan. Hulle wortels gaan ver af tot by die water. Sulke bome kry nie swaar as dit baie warm word nie. Hulle blare bly groen. Lang maande waarin dit baie droog is, is ook nie regtig ’n probleem nie. Hulle hou steeds aan vrugte dra.

9. “Daar is niks wat jou so kan kul as die mens se hart nie. Niemand weet wat binne ’n mens aangaan nie. Niemand kan ook iets daaraan doen om ’n mens se hart te verander nie.

10. Maar Ek is die Here, Ek weet! Ek ondersoek ’n mens se hart en gedagtes. Ek weet wat elkeen se motiewe is. Ek kyk na wat elkeen gedoen het en dan betaal Ek hulle wat hulle behoort te kry.

11. “Mense wat op ’n oneerlike manier ryk word, is net soos ’n fisant wat eiers uitbroei wat sy nie gelê het nie. In ’n stadium sal hulle al hulle geld en skatte verloor. Aan die einde van hulle lewe sal hulle niks anders as arm gekke wees nie!”

12. Ons tempel is reg van die begin af soos ’n pragtige troon. Dit staan hoog uit.

13. Here, Israel se hoop vir die toekoms is van U afhanklik. As enige van Israel se mense dislojaal aan U sou wees, sal hulle verneder word. As hulle die rug vir U sou draai, is die dood hulle voorland. U, Here, is soos ’n fontein waaruit mense drink sodat hulle kan lewe. Nogtans het die mense van Israel van U af weggegaan.

14. Ek het gebid: “Here, U is die enigste een wat my gesond kan maak. U alleen kan my red sodat ek veilig kan wees. Ek wil net vir U alleen die eer gee deur mooi dinge van U te sê.

15. Die mense vra my: ‘Wat het geword van die danige boodskap wat jy by die Here gekry het? Laat dit nou gebeur!’

Lees volledige hoofstuk Jeremia 17